Hoofstukke
Nader aan die hier en nou met die Here

Oop vir die oomblik

Inhoud

Deel 1: Deur die dag

1. Waaroor praat ons?
2. Die wonder van die hier en nou
3. Die geraas in my kop kom tussen my en die huidige oomblik
4. My brein wil meer teenwoordig funksioneer
5. Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid!
6. Jou liggaam is ’n poort
7. Ons waarneming wil oopgaan
8. Doen is bevrydend
9. Ons ervarings: God is daarin
10. Mense: magnete tot in die nou
11. Kom ons kry ons binnekant aan die kant: die benadering
12. Kom ons kry ons binnekant aan die kant: die pad
13. Die aan-die-kant binnekant: die vrede van God
14. Hoe naby die Hoorder!

Deel 2: Die platform van ons eensame, stil tyd met God

– Inleiding
15. Hoekom moet ons nog iets in ons besige lewe inpas?
16. Jou heilige plek
17. Liggaamlike voorbereiding
18. Lees met die Heilige Gees
19. Jou aandag spring na ander gedagtes
20. Laat insink wat jy gelees het
21. Praat met God
22. Gebed van die hart: Wat is die idee daaragter?
23. Gebed van die hart: ’n Manier van doen
24. Terugskoue
25. Stilword in groepe
26. Die moontlike vrugte
27. ’n Sewe-weke-intreeprogram

Plaas bestelling


Voorwoord

Tans is dit gewild om aandag te wy aan wat deur die loop van die dag in ons bewussyn gebeur. Dit gaan oor die vraag hoe afwesig of teenwoordig ons vir die hier en nou is. Daar word baie gepraat oor “leef in die oomblik”, teenwoordigheid, awareness, mindfulness, of bewus leef.

Dikwels word hierdie dinge sonder enige godsdienstige verbande beoefen. Dit kan gedeeltelik so werk, maar dis ’n vervlakking van die ervaring. Die diepte-dimensie van elke oomblik is in werklikheid die aanwesigheid van die Ewige Een. ’n Mens kan telkens weer oopgaan daarvoor. Daarom speel teenwoordigheid in verskeie godsdienste ’n belangrike rol.

Die doel van hierdie boek is om hierdie teenwoordig-leef op ’n Bybelse grondslag te ontvou en te wys hoe dit ’n waardevolle bydrae tot ons Christelike lewe-met-die-Here kan maak. Daar verskyn dan ook binnekort by Bybel-Media ’n Bybelstudiegids hieroor vir groepe of individue.

Maar, as jy hieroor lees sonder om dit te beoefen, is dit teenproduktief. Jy gaan jouself net laat skuldig voel. Daarom speel oefen ’n sentrale rol in hierdie boek. Met die honderde voorgestelde oefeninge wil ek jou help om teenwoordigheid heel prakties te oefen. Ek hoop dit word later deel van jou leefwyse.

In Deel 1 gesels ons oor die informele kant van oop wees vir die oomblik, dit wil sê, hoe dit deur die loop van die dag kan realiseer. In Deel 2 praat ons oor die formele kant, oor die tyd wat ons opsy sit om stil te word met die Here. Ons bou dan die platform vir ’n bewuste lewe: gereelde eensame stilword.

— Willem Nicol


1. Waaroor praat ons?

Ons begin by ons eie ervaring

Die ander dag het ek gesukkel om in die hier en nou teenwoordig te wees.

My vrou moes taamlik dringend by ’n dokter uitkom, maar dis moeilik om ’n afspraak by hom te kry. Skielik lui die foon en hulle sê sy kan oor twee ure inkom. Sy is egter weg sonder haar selfoon en ek kan haar nie bereik nie. Dis sulke goeie nuus, maar sal sy betyds kan wees vir die afspraak?

Kort daarna daag iemand by my op vir ’n afspraak vir spirituele begeleiding. Dit is ’n een-tot-een-gesprek wat van my verg om my volle aandag aan die persoon te gee, om heeltemal hier vir die ander te wees. Ons gaan sit, maar ek sukkel om al my aandag te gee. My gedagtes wil-wil telkens wegdwaal na die onsekerheid oor die doktersafspraak. Ek besef ek is nie heeltemal hier vir die ander persoon nie en dat hy dit moontlik sal aanvoel. Nie ’n lekker gevoel nie.

Toe my vrou uiteindelik terugkom, vra ek die persoon om my gou te verskoon sodat ek by haar kan hoor of sy die afspraak sal kan nakom. Ja, sy kan. Ek kom sit weer. Toe is dit uiteindelik vir my moontlik om my volle aandag aan die persoon by my te gee. Ek luister met my kop én my hart. ’n Rustige, heerlike gevoel.

Jy ken mos die verskil waaroor ek hier praat.

Soms is daar so baie aan die gang dat jou kop begin draai. Jou gedagtes dwaal oral rond. ’n Student het eenkeer vir my gesê: “Ek pik rond en kry nie grip nie.”

Maar ander kere doen jy iets wat jy kan doen en nou wil doen en geniet om te doen. Jy dink aan niks anders nie. Jou volle aandag is by jou aksie. En dis ’n lekker gevoel, nie waar nie?

Onlangs het ek ’n duidelike voorbeeld hiervan gehoor. Ek gesels met ’n kabinetmaker. Hy vertel vir my dat wanneer hy met die mooi hout besig is, hy dit so geniet dat hy soms nie wil gaan wanneer sy vrou hom vir ete roep nie. Ek vra hoekom dit vir hom so lekker is. Hy antwoord: “Want dan is daar geen gemors in my kop nie.”

Ons almal weet ons het hierdie teenwoordig-wees-in-die-oomblik nodig. Daar is baie dinge wat ons daarmee kan help, en dis waarheen ons met hierdie boek op pad is.

Kom ons laat so ’n ervaring nou na ons toe kom. Ek stel voor jy lees die volgende oefening en probeer dit min of meer onthou sodat jy dit kan doen sonder om in die boek te kyk. Die ligter moontlikheid is dat jy self kan kies hoe jy die oefening gedeeltelik kan doen.

1. Kies ’n plek waar jy nie gesteur sal word nie en gaan sit gemaklik.

2. Maak toe jou oë.

3. Rig jou aandag op jou voete en voel wat jy nou daar ervaar.

4. Beweeg nou jou aandag stadig boontoe na jou hande en voel wat jy nou daar ervaar. Bly daar totdat jy die lewe binne-in jou hande voel.

5. Verskuif jou aandag nou na jou bolyf en voel ’n rukkie net hoe jou asemhaling vanself voortgaan.

6. Rig dan jou aandag op jou ore. Let op of jy meer dinge as gewoonlik hoor.

7. Maak jou oë oop en let op of jy meer dinge as gewoonlik raaksien.

Wanneer jy klaar is, kyk terug en vra jou af hoe jy die uitwerking van hierdie oefening ervaar het.

Die doel van die oefening was om jou dieper in die huidige oomblik in te trek. Na aanleiding van so ’n kort ervaring van indaal tot in die oomblik, kan ons baie vrae vra. Hierdie boek handel juis oor hierdie vrae:

1. Is dit moontlik om te leer om meer teenwoordig te leef?

2. Wat is die waarde van leef in die oomblik?

3. Wat kan my deur die loop van ’n gewone dag help om meer teenwoordig te leef? Watter rol kan die volgende dinge speel?

— my liggaam
— my waarneming
— my optrede
— my ervarings
— kontak met mense
— die bewegings in my binnewêreld
— my verhouding met my huidige situasie
— skietgebede

4. Is daar maniere waarop ek my binnewêreld kan oefen om oper vir die oomblik te wees?

5. Waar is die Here in hierdie benadering tot die lewe? Is dit bloot praktiese lewenskuns of gaan dit in werklikheid alles oor Hom? As ek meer teenwoordig is in my lewe, sal dit my help om meer saam met die Here te leef? En omgekeerd: As ek meer saam met die Here leef, sal dit my help om meer teenwoordig in my lewe te wees? Is teenwoordigheid in die lewe eintlik ’n gawe van God? In hierdie boek werk ons so prakties moontlik, maar fokus ook op die diepte-dimensies van ons ervarings.

6. Is hierdie hele benadering nie te selfgerig nie? Gaan dit nie te veel oor mý nie? Nee, ons sal sien dat iemand wat teenwoordig is juis oop is na buite, vir die situasie, vir ander mense, vir die taak van die oomblik.

‘n Definisie

’n Kollega, ds Immanuel van Tonder, en ek bied tans ’n jaarkursus oor hierdie saak aan. Ons het ’n “beleid” geformuleer, ’n soort definisie, wat ons telkens herhaal om seker te maak dat die mense weet waaroor dit gaan. Hier is dit:

Ek leef teenwoordig as my bewussyn oop is
om telkens die wonder van die huidige oomblik te ontvang.
Ek kan dit lewenslank oefen
deur my aandag telkens sonder beoordeling
terug te bring na
wat nou hier is, of gebeur,
in my onmiddellike omgewing,
my liggaam, my gedagtepatrone en my emosies.
Só ontwikkel ek meer openheid
vir myself, ander, die skepping en God.

Ek het dit onderskat

Kom ons kyk nou eers van die ander kant af.

Pretoria-Oos Laerskool het ongeveer 500 leerders gehad. Buiten aan die begin van graad 1 het ek die baie leerders nie as intimiderend beleef nie. Maar in graad 8 (destyds standerd 6) beland ek toe in die Afrikaanse Hoër Seunskool met sy nagenoeg 1 000 leerders, groot gronde en geboue, die imponerende, lang skoolhoof met sy doktorsgraad, die vreesaanjaende onderwysers, die reusagtige prefekte wat ons voor die bors slaan as ons in ons rye praat, die eksamens waarmee ons klasonderwyser ons dreig … en die hele situasie maak my bang.

Hier en daar gebeur dit dat ek kinderlik daaraan dink dat die groot en vriendelike God, wat ek by my gereformeerde en evangeliese ouers leer ken het, hier by my is, en dan lyk die skool ’n oomblik lank nie meer vir my so oorweldigend nie.

Ek besluit toe dat ek vir my doelwitte in my geloof moet stel. Die eerste doelwit wat ek gekies het, was dat ek wou leer om gereeld aan die Here te dink.

Maandagoggende was die ergste. Die hele swaar week het voor my gelê. Ons standerd sessies moet onder streng toesig doodstil in ’n ry by die saal inloop en agter die sittende matrieks gaan staan. Ons kon eers op die vloer gaan sit wanneer die onderhoof gesê het ons mag.

Op ’n dag loop ek voor in die ry en kom te staan reg langs ’n swaar, hoë donkergroen gordyn wat aan die kant van die saal gehang het. Ek dink met verligting die Here is by my.

My gevolgtrekking: Hierdie doelwit is nou bereik. Wat is die volgende een?

Dit het my nie lank gekos om te besef ek het hierdie doelwit nog glad nie bereik nie. Ek was steeds ’n bangerige, pligsgetroue seuntjie met ’n kop vol gedagtes oor wat ek elke oomblik moes doen, oor wat ek sien wanneer ek agtertoe kyk, soos take wat ek nie goed genoeg gedoen het nie, en oor wat vorentoe dalk vir my probleme kon skep. Al hierdie gedagtes het nie maklik plek gelaat vir nog ’n gedagte aan wat nié gesien kon word nie.

Deur al my jare heen het hierdie behoefte egter sterk bly staan: Ek wou meer van die Here in my bewussyn ervaar.

Die saak is groter

Dit het my lank gekos om te besef dit is ’n baie groter saak as om bloot hier en daar aan God te dink. Dit gaan hier om die verlossing van die groot kragte in jou wat veroorsaak dat jy lang tye met ’n versmalde bewussyn leef. Dit is immers een van die grootste probleme van die daaglikse lewe: jou kop wat raas, al die kragte wat veroorsaak dat jy nie in die hier en nou teenwoordig is nie en dit nie ten volle beleef nie, die ongevoeligheid vir die wonder van die lewe soos dit elke oomblik ontvou, die half-bewuste lewe op autopilot, die onnodige stryd met die huidige situasie en jou eie gevoelens, en dikwels die blindheid vir jou eie gevoelens en wat dit aan jou doen.

Die Heilige Gees is besig om ons elkeen te heilig. Hy wil jou ’n mensliker, mooier mens maak. Hy werk nie net aan jou gedrag nie, maar ook aan jou binnewêreld, want Hy weet: Wat in jou hart omgaan, bepaal jou hele lewe (Spr 4:23).

Tans is die moontlikhede van daaglikse bewussyn ’n groot onderwerp in spreekkamers van sielkundiges, in die behandeling van psigiatriese pasiënte, in die sakewêreld en op talle ander plekke. Dit word dikwels mindfulness genoem.

In een van ons koerante is die storie soos volg vertel: “Die tydskrif Time het begin 2014 op hulle voorblad oor die Mindful Revolution berig. In dié artikel kan jy lees hoe wêreldleiers aandagtigheidsmeditasie doen by die Wêreld- Ekonomiese Forum by Davos. In Silicon Valley het mindfulness ’n gonswoord geword. Google het sy eie sewe-week-aandagtigheidsprogram vir werknemers en verskeie Fortune 500-maatskappye en selfs die Pentagon het op die aandagtigheidswa gespring. In die Britse parlement is ’n veelpartygroep pas gestig om die aanwending van aandagtigheid in die gesondheidsektor, opvoedingstelsel en die regstelsel te ondersoek en parlementslede kom gereeld bymekaar sodat hulle vir ’n verandering kan stilbly.”

Hierdie onderwerp word uit minstens drie strome gevoed:

1. Oosterse spiritualiteit
2. die Westerse wetenskap (breinnavorsing, psigiatrie en sielkunde), en
3. die Christelike geloof.

Oosterse spiritualiteit

In verskeie Oosterse kulture en godsdienste het die hantering van die eie bewussyn deur die millennia heen intense aandag gekry. Joga en meditasie was dikwels die bedding, maar daaruit moes ’n vry bewussyn vir die gewone lewe groei. Meer as in die Weste, is daar baie praktiese maniere ontwikkel om die eie bewussyn te hanteer. In die afgelope dekades het dit groot invloed in die Weste uitgeoefen. Dikwels is dié pad in die Ooste as die verlossingsweg ervaar, die hereniging met die goddelike werklikheid in die sin dat die beoefenaars hulleself as ’n manifestasie van God beleef. Dit is anders as die Christelike ervaring van God as die Een wat in die eerste plek ’n Ander is met wie ons in ’n verhouding staan.

In Indië is daar meer Christene as wat daar mense in Suid-Afrika is, en met hulle Oosterse instelling kon hulle die hele saak van bewus leef sterk ontwikkel.

Tydens ’n drie maande lange besoek daar het ek en my vrou baie by hulle geleer. Party van dié Christene sluit so nou aan by die tipies Oosterse ervaring van eenheid met God dat dit lyk of hulle nader daaraan leef as aan die Bybelse ervaring van ’n verhouding met God. Ek kan hulle nie volg nie, want dit is nie hoe die godsdiens werk waardeur die Here my bereik nie.

In dié boek wil ek graag wys hoe die hele wonder van teenwoordig leef en bewus leef op ’n Bybelse grondslag kan funksioneer. As ons op dié grondslag bly, kan ons baie oor hierdie praktyk by die menswetenskappe en ander kulture leer. Dit moet net nie ons eie geloof verdof nie. Ek hou daarvan om ons geloof soos ons dit in die Bybel leer ken volkleur te hou. Hedendaagse insigte oor die praktyk van teenwoordig leef kan ons baie help, maar dit hoef nie só ingemeng te word dat dit ’n grys mengsel afgee nie. In hoofstuk 5 staan ons stil by die verhouding tussen die Bybel en die Oosterse spiritualiteit.

Die Westerse wetenskap

Soos ons sal sien, kan ons ook baie oor die eie bewussyn by die Sielkunde en Mediese Wetenskap met hulle navorsing oor die menslike brein leer. Baie sielkundiges vind dat dit hulle kliënte help as hulle kan leer om hulle bewussyn anders te hanteer. Hulle bied mindfulness training as deel van hulle diens aan. Die hedendaagse navorsing oor die brein toon aan waarom dit waardevol vir liggaamlike en geestesgesondheid is. In hoofstuk 4 praat ons meer hieroor.

Vier dekades gelede het ’n molekulêre bioloog van die Universiteit van Massachusetts in die VSA, dr Jon Kabat-Zinn, begin om psigiatriese en ander pasiënte met meditasie en verwante oefeninge vir die bewussyn te behandel. Hy het gevind dat dit ’n waardevolle bydrae lewer. Hy het ’n program ontwikkel wat hulle Mindfulness-Based Stress Reduction (MBSR) noem. Dit word sedert 2014 reeds in meer as 200 mediese sentrums, hospitale en klinieke oor die wêreld heen aangebied. Duisende mense het al ervaar dat dit hulle help met die hantering van stres, pyn, angs, depressie, eetsteurnisse en verskeie ander probleme.

’n Joernalis het die storie vertel oor hoe dit na ons land gekom het. Simon Whitesman, ’n mediese dokter van Kaapstad, “wat sy eerste aandagtigheidsopleiding in 1998 by Kabat-Zinn se Center for Mindfulness in Medicine aan die Universiteit van Massachusetts gekry het, het die program sowat 15 jaar gelede na Suid-Afrika gebring. In 2007 het hy die Institute for Mindfulness South Africa (IMISA) in die lewe geroep. Dié organisasie sonder winsbejag wil aandagtigheid in veral die plaaslike gesondheidsektor bevorder en navorsing op eie bodem aanmoedig. Whitesman was ook die aanvoorder van die eerste nagraadse opleidingsprogram in aandagtigheidsgebaseerde ingrypings wat sedert verlede jaar by die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch aangebied word. In Suid-Afrika volg sowat 50 mense (meestal geregistreerde gesondheidswerkers) die kursus.”2 In September 2014 het IMISA die heel eerste nasionale aandagtigheidskonferensie in Suid-Afrika, Mindfulness Matters 2014, in Stellenbosch en Goudini aangebied.

Die Christelike geloof

In die Christelike geloof staan die hart van die mens en ons bewussyn sentraal. Vir my is dit die deurslaggewende grondslag vir hoe ek teenwoordigheid ervaar en hanteer. Dit is dan ook hoe ons in hierdie boek gaan werk.

Bewustheid van jou eie bewussyn was van die begin af deel van die Christelike geloof. Die Bybel praat nie net oor ons dade en woorde nie, maar ook oor wat in ons binnewêreld aangaan. Dink maar aan hoe daar geskryf is oor begeertes (Eks 20:17), bekommernisse (bv Matt 6:25), die bewaring van die hart (Spr 4:23) en die liefde vir God met hart en siel (Deut 6:5). Geloof is ’n saak van die hart. Gelowiges weet dat hulle weet …

Die woestyn as plek van stilte en eensaamheid en eerlik wees met jouself het ’n groot rol in die lewe van Moses, Elia en Jesus gespeel. Vanaf die vroegste eeue het langer tydperke van gebed en meditasie deel van die Christelike ervaring gevorm. In stilte het gelowiges al hoe meer bewus geword van wat in hulle eie binnewêreld aangaan. Teen hierdie agtergrond is daar wonderlike boeke geskryf oor ’n bewussyn wat oop is vir die aanwesigheid van die Here en oor maniere om in die oomblik te leef. Reeds in die 17de eeu is Broer Lawrence se boek The practice of the presence of God geskryf, en in die 18de eeu het Jean-Pierre de Caussade sy boek geskryf met die titel The sacrament of the present moment.3 Christene noem ’n meer bewuste manier van leef dikwels ’n “kontemplatiewe leefstyl” en daar is ’n breë stroom hedendaagse literatuur hieroor. In die res van hierdie boek sal ons telkens na die Bybel en ander Christelike literatuur terugkeer.


Hou vas

Ons leer die een en ander oor hierdie praktyk by die moderne menswetenskappe en by Oosterse kulture, maar ons bly staan op ons Christelike grondslag en trek alles by ons Bybelse geloof in.

Kom ons oefen

  • Vestig jou aandag op die boek waaruit jy lees of op die elektroniese apparaat waarop jy die boek afgelaai het.
  • Voel die gewig en tekstuur daarvan.
  • Kyk daarna asof jy dit vir die eerste keer sien.
  • Bring so ’n aandagoefening jou meer in die nou in? Hoe voel dit?

Ons ervaar diep weerstand

Baie mense wil oor hierdie dinge lees en praat, maar min doen dit volhoudend. Ek het deur die jare gevind dat dit vir my baie aantreklike gedagtes is, maar dat baie van die praktiese dinge nie maklik in my lewe wortelskiet nie. Dit het my verbaas en laat wonder waarom.

Geleidelik het dit vir my verstaanbaar geword.

Ons almal ervaar diep weerstand teen ’n meer teenwoordige manier van leef. Ons vind dit aantreklik, maar ook bedreigend. As ons meer in die hier en nou begin leef, tree daar diep veranderings in ons binnewêreld in. Ons verskansings teen die lewe word afgetakel en ons ekkigheid ly skade. Ons weerstand daarteen veroorsaak gewoonlik dat die proses stadiger vorder. In hoofstuk 3 sal ons verder hierop ingaan.

Kan ek dit doen?

Kom ons gaan nou eers terug na my ervarings met my bewussyn.

Soos ek reeds vertel het, het ek van jongs af ’n smaak ontwikkel vir ’n bewussyn wat vir iets groter oopgaan. As jy dié smaak eers eenmaal gekry het, kan jy nie ophou om daarna te verlang nie. Ek het daarom telkens op ’n nuwe manier probeer om meer van die Here in my daaglikse bewussyn te ervaar. Ander mense het my ook van baie maniere vertel.

Een skrywer het glo telkens wanneer die uur slaan sy pen neergesit en ’n oomblik in die Here se teenwoordigheid stil geword. ’n Ander het elke aand in sy dagboek opgeteken watter persentasie van die dag hy van die Here se aanwesigheid bewus was. Iemand anders het besluit hy gaan nie weer koffie drink sonder om aan die Gewer van alle goeie gawes te dink nie. Ek het baie dinge probeer en niks het volhoudend gewerk nie. Op ’n baie diep vlak het dit ’n gevoel van onvergenoegdheid in my gevoed.

God bewys sy goedheid aan dié wat glo én aan dié wat nie glo nie. Daar is mense wat ’n meer teenwoordige leefstyl ontwikkel deur dit self in te oefen sonder om te dink dat dit God is wat dit aan hulle gegee het. Maar, soos ons in hierdie boek sal sien, is teenwoordigheid ten diepste om teenwoordig te wees vir die Teenwoordige Een. Daarom is dit in werklikheid Hy wat dit gee en die beste manier om dit te ontwikkel is om dit van Hom te ontvang, ook die aksie wat van jou kant nodig is.

Ek het langsamerhand geleer.

As studenteleraar kamp ek eenkeer saam met studente by Badplaas. Ek glip weg om onder in ’n kloof langs die stroompie uit Andrew Murray se The prayer life4 te lees. Dis ’n ou eksemplaar wat nog aan my pa behoort het. Bladsy 32 gryp my aan, en toe ek mooi kyk, sien ek my pa het 72 jaar voor daardie dag ’n datum by daardie einste bladsy geskryf. Wat staan daar? Murray skryf dat as jy tyd afstaan aan gebed in jou Binnekamer (hy skryf dit met ’n hoofletter), “you wait on Him till He unveils Himself, and takes possession of you, and goes out with you to show how a man may live and walk in abiding fellowship with an unseen Lord …” Ek skryf toe daardie dag se datum langs my pa s’n neer.

In een helder oomblik het ek besef: Ek kan nie self die gewoonte ontwikkel om meer in gemeenskap met Christus te leef nie. Hy moet van my bewussyn besit neem en my wys hoe dit moontlik is. Dit was wonderlik om dit te besef, maar dit was nie genoeg om dié besef in my hart te laat oorneem nie.

Jare later gaan die Here egter voort met die proses in my lewe. Ek sit aan die voete van prof Hein Blommestijn, ’n professor in Christelike spiritualiteit aan die Universiteit van Nijmegen, Nederland. Ek sê vir hom ek kry dikwels die gevoel dat ek nie my bewustheid van die Here meer kan maak nie. Hy antwoord: “Dis ’n baie belangrike ervaring. Jy moet ervaar dat jy nie kan nie, want, soos ’n Christelike mistieke skrywer gesê het: ‘Die laaste stasie op pad na God is bankrotskap.’”

’n Hele ruk daarna het ek steeds nie alles goed genoeg verstaan nie. Ek het gedink ek kan al my pogings staak en net wag dat die Here alles doen. Dit het ook nie gewerk nie.

Toe begin dit vir my duidelik word hoe die Here wil werk. Dis nie óf sy aksie óf my aksie nie. Nee, sy aksie is groter en wil my aksie insluit. Hy wil my aktiveer sodat ek aktief is, maar nie dink ek kry dit self reg nie. Dit is een van die diepste elemente in die Christelike ervaring. In hoofstuk 5 sal ons langer hierby stilstaan.


Hou vas

Ek kan nie sonder die Here se aksie meer teenwoordig leef nie, en die Here wil dit ook nie sonder my aksie vír my doen nie.

Kom ons oefen

Ek nooi jou om vyf vrae aan jouself te vra:

  • Is dit my hartsbegeerte, my intense verlange, om meer teenwoordig te leef?
  • Aanvaar ek dat ek dit nie self kan doen nie?
  • Glo ek dat God dit vir my wil gee?
  • Is ek bereid om met my hele hart te smeek: “Here, neem my saam op hierdie pad en sleep my wanneer ek weerstand bied”?
  • Is ek bereid om van my kant af my bes te doen?

Ons gaan oefen

In hierdie boek gaan ons telkens kyk na hoe ons hierdie praktyk kan oefen. Ek gaan jou dikwels nooi om sekere oefeninge te doen.

My bedoeling is dat ek jou wil nooi om self met die hier en nou te eksperimenteer om agter te kom hoe jy meer daarvan kan ervaar. Jy kan uit jou eie ervaring leer om telkens dieper in die huidige in te gaan en oor die algemeen nader daaraan te leef. Ek nooi jou om self te ondervind dat die hier en nou bodemloos is. Dit begin by die doodgewone, maar verdiep na die wondere van die lewe en vind uiteindelik die Lewensbron. Ek kan nie vir jou uitspel hoe hierdie pad vir jou sal loop nie. Jou pad sal anders wees as al die ander s’n. Die Ewige Een sal jou verras. Jy moet self ervaar en daaruit leer. Daarom nooi ek jou telkens met oefeninge om nader aan jou eie ervaring te beweeg.

As jy hierdie boek net vir inligting lees sonder om te oefen, gaan dit jou min baat. Dit kan in werklikheid meer kwaad as goed doen as jy net lees sonder om te doen, want dit kan jou laat skuldig voel omdat jy nie vorder met die dinge waaroor jy lees nie.

Die hele kwessie van bewus leef kan immers nooit volkome verstaan word nie. Die naaste wat jy daaraan kan kom, is deur daaraan te proe deur dit te beoefen. As jy net lees, sal jy nog nie regtig integrasie met jou lewe ervaar nie.

Dis eintlik so vanselfsprekend dat ons ook op die terrein van ons leef-met-die-Here oefening nodig het. Die hele lewe werk tog so. Wat sal dit help iemand bestudeer al die teorieë oor tennis sonder om ooit op die baan te kom? Kan ’n mens ’n musiekinstrument leer speel sonder om ure lank te oefen? Rekenaars, selfone, motors, kosmaak, tuinmaak – alles het oefening nodig.

Veral in die Protestantisme, waarvan die meeste van ons deel is, is daar sterk weerstand teen die gedagte van oefening op godsdienstige terrein. Dis verstaanbaar. In die eeue wat verby is, het veral die Katolieke Kerk die kwessie van spirituele dissiplines skeefgetrek en te ver gevoer. Daar was selfverterende vas, selfkastyding met swepies, slaaplose nagte om te bid, en eensaamheid en stilte wat baie verder gedryf is as enigiets wat ons in die Bybel kan kry. Daar was meer as een dryfveer hiervoor. Aan die een kant was daar die gedagte dat ’n mens die genade van die Here kan verdien deur jouself só te kasty. Aan die ander kant was daar ’n verafskuwing van die liggaam, ’n ingesteldheid dat jy jou liggaam moet kasty om jouself daarvan los te maak. Die gevolg was dat spirituele dissiplines dikwels nie, soos dit hoort, beoefen is met die doel om jou vir God se aksie oop te stel nie.

As ons hieruit aflei dat alle spirituele dissiplines verwerplik is, gooi ons egter die baba saam met die badwater uit. Die Bybel is vol daarvan dat die Here se mense sy wil op praktiese, gematigde maniere moet inoefen.

Vir Josua het die Here oor die wetboek gesê: Oordink dit dag en nag (Jos 1:8).
Vir die volk het Moses bygevoeg: Jy moet dit [die wet] inskerp by jou kinders en
met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan
(Deut 6:7).

Jesus was nie ’n monnik of iemand wat askese ver gevoer het nie. Die Fariseërs het byvoorbeeld beswaar gemaak omdat Hy en sy dissipels saam met tollenaars en sondaars eet en drink (Luk 5:30). Maar Jesus het kosbare spirituele gewoontes gehad. Hy het Hom altyd weer op eensame plekke afgesonder om daar te bid, soms ’n hele nag lank (Luk 5:15; 6:12). Sy opdrag aan ons oor gebed is: Gaan na jou binneste kamer en maak jou deur toe (Matt 6:6). Toe dinge in Getsemane begin moeilik raak en dit vir die dissipels nodig was om saam met God met ’n sterk gees daardeur te gaan, was Jesus se opdrag aan hulle: Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak (Mark 14:38). ’n Mens kan ook as spirituele dissipline in eenvoud leef, en dit het Jesus voorwaar gedoen. Behalwe vir sy klere en sandale weet ons van niks anders wat Hy besit het nie. Hy het geen huis of rydier of wat ook al besit nie. Hy het nie eens geld by Hom gedra nie.

Sy mense het Hom hierin gevolg. Die eerste gemeente het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel (Hand 2:45). Paulus het nie geld van sy gemeentes gevra nie, maar hy was bereid om sy ambag snags te beoefen om geld vir sy basiese behoeftes te hê. Hy het hierdie inspanning beskou as oefening om ’n fikser werker vir Christus te wees: Ek dissiplineer my liggaam en ek maak dit diensbaar (1 Kor 9:27).

Kyk ons wyer, sien ons die volgende spirituele oefeninge as deel van die lewe van die eerste gemeente: hulle het volhard in die onderrig van die apostels, die onderlinge verbondenheid, die breek van die brood, gebed en lofprysing tot God (Hand 2:42, 47). Paulus het die gelowiges aangemoedig: Bid gedurig (1 Tess 5:17), en om met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot God te sing (Kol 3:16).

Wanneer ek jou in hierdie boek nooi om oefeninge te doen, is my bedoeling altyd dat dit sal wees soos om jou tennishoue teen ’n muur te oefen. Die speel teen die muur is nie die doel nie. Die tenniswedstryd is die einddoel. Jou werklike lewe is die wedstryd en dit is die doel. Die oefeninge moet jou net voorberei om meer teenwoordig te kan leef.

Nog belangriker is dat jou oefeninge nie jou eie ek sal voed nie. As jy die oefening goed doen, moet dit jou nie laat voel jy kry nou op spirituele gebied iets besonders reg en jy kan jouself op die skouer klop en selfs heimlik voel jy is meer spiritueel as ander nie. Sulke spirituele hoogmoed is een van die lelikste sondes. Nee, jou oefeninge behoort jou nederiger te maak omdat jy ervaar dat jy dit alles van die Here ontvang. Dis Hy wat jou beweeg om te oefen, en dis Hy wat jou seën in die doen van die oefeninge, en jy voel al kleiner omdat jy soveel guns onverdiend ontvang. Om op hierdie vlak nader aan God te beweeg is een van die belangrikste bewegings wat daar kan wees.

Daarom doen ons die oefeninge ongeforseerd. As ons rus in die geloof dat die Here deur ons werk, vloei dit gewoonlik van nature. Soms word harde inspanning in die lewe noodsaaklik, maar spirituele oefeninge is net voorbereiding vir die lewe en behoort met ’n ligte aanslag gedoen te word.

Mense verskil hemelsbreed van mekaar. Net so verskil die oefeninge wat vir verskillende mense die beste werk sal werk. Die Heilige Gees vind verskillende paaie na verskillende mense se harte:

  • genieting van die natuur
  • eensaamheid en stilte
  • tradisionele liturgie
  • lofprysing
  • ontvankliker sintuie
  • tradisionele of moderne geestelike musiek
  • klassieke of moderne musiek
  • werk vir die kerk
  • diens aan noodlydendes
  • naderkom aan eie liggaam
  • gebed
  • Bybelstudie
  • leer oor God en sy Woord, en so meer.

God is so intens in alles teenwoordig dat daar geen faset van ’n mens se lewe is waar jy nie kontak met Hom kan ervaar nie. In alle fasette kan jy oefen om die lewe nie vlak te ervaar nie, maar in die volle diepte. Dit bring jou telkens in aanraking met die Onderhouer van alle dinge. Oefeninge wat nie in die enger sin van die woord met godsdiens te doen het soos Bybellees, gebed en kerkbywoning nie, is in werklikheid net so godsdienstig. Dit kan baie natuurlike dinge wees soos hoe jy na die wolke kyk, hoe jy jou klere ophang, en so meer. Die moontlikhede is onbeperk.

Daar is een soort oefening waarmee nie baie mense volhou nie, maar wat vir die meeste van ons ’n waardevolle platform kan wees waarop die res van die bewuste lewe gebou kan word. Dit is om sover moontlik ’n daaglikse eensame, stil tyd van doelbewuste gemeenskap met God te geniet. Dit sluit in stilword met die Here met Skrifmeditasie, die gebed van die hart en soortgelyke oefeninge.

In hierdie boek gaan ons eers na die fasette van die daaglikse lewe kyk voordat ons in Deel 2 by die eensame stilword kom. Die beoefening van bewustheid met verloop van die dag kan jou voorberei vir hierdie eensame stilword. Laasgenoemde sal eersgenoemde dan weer voed.

Jou benadering tot die inoefening

Die lewe in die hier en nou kan vir jou so aantreklik klink dat jy mik om jou aandag as’t ware in die oomblik te laat vassuig. Jy sal dit nie kan regkry nie. Dit kan ook daartoe lei dat jy daarna begin strewe en baie gedagtes daaroor het en jouself beoordeel. Dan verval jy in ’n teenproduktiewe proses.

Nee, aanvaar dat dit natuurlik is dat jou aandag nie konstant in die nou sal kan bly nie. Solank jy dit net telkens kan terugbring na die oomblik is dit goed genoeg. Dit hoef nie geforseerd of haastig te gebeur nie. Normaalweg is dit moeilik. Elke bietjie terugkeer is wel belangrik, want só is jy besig om jou bewussynsprosesse en leefstyl te herstruktureer. Ons sal later sien dat dit daartoe lei dat nuwe roetes en patrone in die werking van jou brein vorm. Wees dus tevrede met elke stukkie terugkeer wat gebeur.

Dink byvoorbeeld aan die ou speletjie met plat klippies op die water. As jy die klippie mooi gooi, spring dit ’n klomp keer op die water. Die meeste van die tyd is die klippie in die lug en wanneer dit hoogte verloor, laat die water dit weer in die lug op spring. Só kan jy jou oefening beleef. Al is jou aandag die meeste van die tyd by allerlei ander dinge, kan jy tevrede wees as dit net telkens weer “aan die water raak”, just touching base. Die raak aan die water kan kortstondig wees, maar dit maak die hele verskil.

Moenie te hard probeer nie, maar leef wel vanuit ’n firm commitment, ’n vaste voorneme dat jy wil leer om meer teenwoordig te leef. As jy met jou eie weerstand veg, kan jy juis daaraan energie gee. Wees vriendelik teenoor jouself en doen jou deel op ’n gemaklike manier.

Let op dat jou situasie dit dikwels vir jou maklik maak om terug te keer tot in die oomblik. Dit kan voel of jy ingenooi word deur iets wat jy hoor of sien of proe. Dit kan voel of iets ’n onverwagte appèl op jou maak. Dit kan voel of jy ’n teenwoordige oomblik ontvang. Dan is jy op ’n goeie pad.

Ten diepste is dit die Ewige Een wat jou nadertrek.

Solank jou vaste voorneme daar is, kan jy tevrede wees met wat gebeur, al is jou vordering soms baie stadig of al voel dit jy staan stil.

Daar sal mooi oomblikke aanbreek en die een sal op die ander voortbou. ’n Meer bewuste manier van leef sal geleidelik na jou hele leefstyl versprei, ongemerk, sonder dat jy dit verstaan of beheer, dikwels sonder dat jy daarvan bewus is. Dink maar aan hoe ’n mens daaraan gewoond raak om ’n nuwe selfoon te gebruik. Daar vind onbewuste prosesse plaas. Die tyd is aan jou kant.

Oor die oefeninge

Ek gee baie oefeninge, te veel om gelyk te doen. Die doel is dat jy deur die oefeninge sal lees en self sal kies wat nou vir jou gepas is. Lees dit asseblief deur, want dikwels maak die oefeninge my bedoeling duideliker.

Aan die einde van die boek gee ek ’n sewe-weke-intreeprogram. Daar is twee maniere waarop jy hierdie program kan gebruik:

1. Sinkroniseer dit met die lees van die boek:

— Begin met week 1 en 2 nadat jy hoofstuk 6 gelees het.
— Doen week 3 ná hoofstuk 7,
— week 4 ná hoofstuk 8,
— week 5 ná hoofstuk 10,
— week 6 ná hoofstuk 11 tot 13, en
— week 7 ná hoofstuk 14.

2. Volg die program nadat jy die hele boek gelees het.

Kom ons betree nou die pad om meer bewus te leer leef, om meer in kontak te kom met die wonder van die lewe, die Diep Geheim van die lewe. Dis immers van die kosbaarste ervarings wat daar in die lewe te kry is.


Hou vas

Bewussynsoefening is net so nodig soos liggaamsoefening.

Kom ons oefen

  • Wag ’n oomblik voordat jy nou iets anders doen.
  • Vestig jou aandag op jou lyf en beweeg dit ’n paar keer van onder na bo en dan weer na onder. Dit wil sê, jy begin deur jou tone te voel en beweeg dan op tot by jou kopvel en dan weer af.
  • Wat voel jy?

Lees verder

Koop sagteband

Bestel telefonies by 021 864 8210/11

Stuur bestelling per e-pos na bestel@bmedia.co.za


Ander boeke