[aesop_chapter title=”Inhoud” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]
1. In bewuste herinnering
2. Cottesloe en ‘n omstrede proefskrif
3. Molweni, mawethu
4. Kwazakhele: gemeente sonder grense
5. Die lang pad na Belhar
6. Die wakende oog van die Veiligheidsdiens
7. Die struggle-jare op die kampus van die UWK
8. UWK, Dakar en ander onvergeetlike oomblikke
9. Die Vredeskomitee, die generaal en sy tweelingbroer
10. “Daar kom nie ’n einde aan die skryf van baie boeke nie” (Pred 12:12)
Plaas bestelling
[aesop_chapter title=”1. In bewuste herinnering” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]
O
ns is almal historiese wesens met ’n beginpunt, ’n eindpunt en ’n lewensgeskiedenis tussenin. Namate ons ouer word, kyk ons meer terug op dit wat verby is as wat ons vorentoe kyk. Die toekoms, indien daar wel een is, is immers nog onbekend en ons weet nie wat vir ons wag nie. In elk geval nie in hierdie bedeling nie. Ons aardse toekoms is onvoorspelbaar en dagdrome oor die toekoms kan maklik soos damp verdwyn. Dit is te onseker. Wat meer seker is, is die geskiedenis van my verlede.
Selfs wanneer ons as Christene uitsien na die toekoms wat in Christus vir ons verborge lê, kan ons nie ophou om daarvan bewus te wees dat ons ’n geskiedenis agter ons het nie. Dit is dan dat die vraag ongemaklik dringend word: Wat laat ek agter?
Wat laat ék agter? My lewensgeskiedenis is vervleg met die lewensgeskiedenisse van baie ander mense, mense naby aan my, maar ook mense nie so naby aan my nie; mense van wie ek nie eens altyd bewus was nie. Sonder dat ek dit geweet het, het dit wat ek gedoen of gesê het die lewensgeskiedenis van ander geraak, of dit nou goed of sleg was. Dié wat ver van my af was, kon dit nie vir my sê nie. Dié naby aan my kon of het dit gesê. Dikwels het hulle gewoonweg geswyg.
Ons lewensgeskiedenisse, soos dit die lewensgeskiedenis van ander raak, is ambivalent. Daar steek ’n stuk tweeslagtigheid daarin. Daarom is dit ’n probleem, selfs gevaarlik, om ’n eie lewensgeskiedenis te skryf. Juis omdat dit tweeslagtig is. Die tweeslagtigheid dwing jou tot ’n keuse, ’n keuse waarin jy die tweeslagtigheid van die goeie en die slegte probeer ontsnap.
Maar jou eie geskiedenis haal jou in. Dit is nie net jy wat onthou nie. Ook ander onthou. Dit gebeur op ’n klein, individuele vlak wanneer mense wie se paaie met joune gekruis het, nie net die goeie en die mooi onthou nie, maar ook waar jy seergemaak het, waar jy met onverskillige, selfs kille liefdeloosheid opgetree het.
Jy leef egter nie net op ’n persoonlike vlak, intiem of minder intiem, met ander persone nie. Jou lewe is ook vervleg met sake en gebeurtenisse wat uitgaan bo die persoonlike en individuele, wanneer die groter prentjie ontvou van lewensomstandighede waarby jy willens en wetens, of selfs teen jou wil en begeerte, ingesuig is.
Glo my, dit gebeur! Ons is almal historiese wesens en leef binne historiese omstandighede waarop ons as mense reageer, na watter kant ook al, met gevolge vir jouself en vir ander, of miskien nie reageer nie, maar steeds met gevolge vir ander.
Inderdaad, ons is historiese wesens. Daarom leef ons uit herinnerings. Om te onthou is deel van ons menswees. Ons hou op om te bestaan as ons ophou om te onthou. Ons identiteit hang saam met ons herinnerings.
Natuurlik kan ons nie altyd alles onthou nie. Natuurlik kan ons in ons herinnerings foute maak. Daarom, as jy nie ’n dagboek gehou het nie – ’n dagboek is ook maar ’n vorm van herinnering en selfs minder akkuraat as wat ons soms dink – is die veiligste weg om oor herinnerings te skryf, die oomblikke uit te soek wat ’n onuitwisbare indruk op jou gemaak het, gebeurtenisse wat jy in jou geheue saamdra omdat jy dit nie kan vergeet nie.
Omdat ons historiese wesens is, hang ons eie oomblikke van herinnering ook saam met die geskiedenis wat rondom ons afspeel. Ons leef nie in ’n lugleegte nie. Ons leef nie in ’n geskiedenislose wêreld nie. Dinge gebeur rondom ons. Al is ons nie self direk betrokke by wat gebeur nie, is ons dikwels indirek daarby betrokke. Dit wat buite ons gebeur, ráák ons, al is dit net in ons gedagtewêreld, in ons gemoed wat soms onstuimig kan word – opgewonde en bly, maar ook swaarmoedig, selfs geskok en vreesbevange.
Daar is egter tye wanneer ons baie direk betrokke is by wat afspeel in ons leefwêreld. By my is dit die geval dat ek soms direk betrokke was by geleenthede wat saamgehang het met veral die laaste fases van die vorige apartheidsbedeling in Suid-Afrika. Uit die aard van die werk wat ek gedoen het, in die kerk en in die universiteitswese, het ek onvermydelik betrokke geraak, soms sonder dat ek daarvoor gekies het, soms willens en wetens. Wanneer ek my eie oomblikke van herinnering oproep, hou dit veral, maar nie uitsluitlik nie, verband met hierdie betrokkenheid.
Hierdie boek is nie ’n outobiografie nie. Ek lig bepaalde oomblikke uit wat vir my belangrik was en wat ek nie kan vergeet nie. Uiteraard gaan dit oor wat ek self ervaar het. Daarom sal die beskrywing van gebeurtenisse vanuit my eie perspektief wees. Maar ek herhaal dat die bedoeling nie is om ’n outobiografie te skryf nie. Baie persoonlike oomblikke kom nie hierin voor nie, juis omdat dit so intiem en persoonlik was. Ervarings by intens persoonlike oomblikke, soos ’n huwelik, die geboorte van kinders en kleinkinders, en die afsterwe van ’n lewensmaat, is dinge waaroor ek, soos die meeste van ons, nie maklik praat nie en verkies om persoonlik en privaat te hou.
Natuurlik is daar ook oomblikke wat ek onthou of dit gister gebeur het, maar waaroor ek ter wille van myself liewer sal swyg; dinge wat ek, as ek kon, ongedaan sou wou maak.
Gelukkig is ek in die bevoorregte posisie om keuses te maak. Dit staan diegene wat my goed genoeg ken, vry om hulle eie opinies daarop na te hou en te wonder waarom ek nie ook dít vertel nie.
Gedeeltes van hoofstuk 2, 3 en 5 het verskyn in die boek Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid, onder redaksie van Danie du Toit (Bybelkor, 2014). Hierdie hoofstukke is verwerk en nuwe materiaal is bygevoeg. Veral die hoofstuk oor Belhar bevat nuwe stof en is bygewerk.
[aesop_chapter title=”2. Cottesloe en ’n omstrede proefskrif” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]
I
n meer as een opsig was 1960 vir my en my vrou, Randu, in Nederland ’n keerpunt. Hier het ek aangeland om te promoveer in sendingwetenskap ná my studies aan die Kweekskool in Stellenbosch. My ervaring in Nederland was nie die rede hiervoor nie, maar dit wat in Suid-Afrika gebeur het.
In April van daardie jaar het die polisie by Sharpeville, ’n township naby Vereeniging, op ’n klomp swart mense geskiet wat betoog het oor paswette waaraan hulle onderwerp was. Talle van hulle, mans en vroue, het gesterf. Hierdie menslike slagting en die internasionale verontwaardiging en woede wat daarop gevolg het, kon nie anders as om op ons, daar in die vreemde, ’n onuitwisbare indruk te maak nie.
Die briewe uit Suid-Afrika en die voortdurende nuusdekking in die Nederlandse koerante het beelde voor ons opgetower wat nie alleen by ons afgryse verwek het nie, maar ook angsgevoelens oor ons land se toekoms. Ons het ’n oorheersende gevoel van magteloosheid ervaar omdat ons nie daar was nie, ver in die vreemde, en nie in staat was om iets van ons kant af te doen nie, asof ons hoegenaamd iets sou kon doen.
Ek sal nooit vergeet dat dr Jan van den Berg van die Vrije Universiteit in Amsterdam een aand na ons toe gekom het nie, bloot om deur sy teenwoordigheid vir ons te sê hy dink aan ons gedurende hierdie moeilike tyd. Hoewel prof Herman Bavinck, ’n professor in sendingwetenskap, my eintlike promotor was, het hy ’n groot deel van die promotorswerk aan dr Van den Berg oorgelaat. Laasgenoemde is later as professor in kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Leiden aangestel.
Teen Augustus het my proefskrif min of meer sy finale vorm bereik. Die tema vir my proefskrif, waarop ek in November van die vorige jaar ná my doktorale eksamen besluit het, het nie op die oog af juis baie moontlikhede gebied om op ’n aktuele manier die politieke situasie in Suid-Afrika te betrek nie. Ek het geskryf oor die eenheid van die kerk binne ’n sendingperspektief. (“Una Sancta Catholica in sendingperspektief” was die gewigtige titel van my proefskrif waarop ek baie ingenome besluit het; veral die Latyn het indrukwekkend geklink.)
Tog was die tema belangrik omdat apartheid in Suid-Afrika op ’n baie kenmerkende manier in ’n verdeelde NG Kerk gestalte gekry het. In my proefskrif het ek dit dan ook baie duidelik gemaak dat ’n kerk wat op rassegrondslag verdeeld was, nie die toets van die Christelike evangelie kan deurstaan nie.
Dat die verskillende kerke binne die NG Kerk-familie een kerk moes word, was een van die grondstellings in die proefskrif ná ’n onnodig ellelange teologiese argument vooraf. Dit was die eerste sodanige pleidooi wat van binne die NG Kerk opgegaan het; Willie Jonker sou later in ’n publikasie in Suid-Afrika hierdie pleidooi met groot oortuiging bevestig.
Op daardie tydstip in Nederland het ek egter gevoel dit waarmee ek besig was, kon nie juis enige bydrae maak tot wat besig was om in Suid-Afrika af te speel nie. Soos wat dikwels later in my lewe sou gebeur wanneer ek onderweg was met ’n boek, het ek met die knaende gevoel geloop dat dit wat ek doen eintlik maar ’n bietjie sinloos was. Maar ek het nie die moed gehad om op te skop nie. In Nederland was dit in elk geval te laat om oor te skakel na ’n ander onderwerp. Buitendien was ons geld besig om op te raak. Die proefskrif moes nog gedruk word en dan was daar die koste van ’n bootreis terug Suid-Afrika toe wat op ons gewag het.
Dit is in hierdie stadium dat ’n klein gelukkie ons te beurt geval het. Iemand van die Uitgeverij W ten Have in Amsterdam (ek kan ongelukkig nie meer sy naam onthou nie) daag onverwags een aand by ons in Davisstraat 41, Amsterdam op, sê dat hy gehoor het van die proefskrif waaraan ek werk en dat sy uitgewery bereid is om dit uit te gee. Dit was eenvoudig fantasties.
Van doktorale studente in Nederland is verwag dat hulle hulle proefskrifte in drukvorm moes beskikbaar stel vir die fakulteit. Dit was ’n duur storie vir elke student, glo my. Die aanbod van hierdie engel het beteken dat ek die geld wat ek vir die druk van die proefskrif opsy gesit het, nou kon gebruik om ons bootkaartjies terug na Suid-Afrika te koop. Hoe groot was die verligting nie! Ek en Randu het juis nie geweet hoe ons die reis na Suid-Afrika sou kon bekostig nie.
So is my proefskrif gedruk, en op 27 Januarie 1961 het ek dit in die openbaar in die Woestduincentrum in Amsterdam verdedig voor die Fakulteit Teologie van die Vrije Universiteit.
By hierdie geleentheid het die belangstelling wat die verwikkelings in Suid-Afrika onder die Nederlandse akademici ontlok het, weer duidelik geword. By die onthaal ná die promosie (’n glasie wyn en ’n paar soutighede waarvoor ek moes betaal) het die professore van die Vrije Universiteit, veral prof Berkouwer, ná ’n kort handskud-gelukwensing vir my, rondom Randu gedraai. Sy het vir die biblioteek van die Nederlands-Zuid-Afrikaans Vereniging gewerk en was baie goed op die hoogte van al die nuwe publikasies wat in Suid-Afrika verskyn het.
Een van hierdie publikasies was Vertraagde aksie, ’n bundel opstelle waarin ’n aantal Suid-Afrikaners tentatief hulle ontevredenheid met die verloop van sake in Suid-Afrika uitgespreek het. Dit was dan ook die rede vir my vrou se gewildheid. Almal wou met haar oor die publikasie praat en by haar weet of sy dit al gelees het en wat sy daarvan dink. Maar nie een van hulle het besef die proefskrif wat hulle so pas aanvaar het, sal meer opslae maak as Vertraagde aksie nie. Ek self het dit natuurlik ook nie besef nie – watter draaie hierdie proefskrif my nog in Suid-Afrika sou laat loop nie! En dit het alles saamgehang met Sharpeville.
Om dit te verstaan moet ek iets meer vertel van die verwikkelings in Suid-Afrika ná Sharpeville.
Die gebeure by Sharpeville het, soos ek reeds gesê het, ’n groot opskudding tot gevolg gehad, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal.
Een van die internasionale instansies wat dit hulle plig geag het om die sake in Suid-Afrika te probeer beredder, was die Wêreldraad van Kerke. Die meeste van die kerke in Suid-Afrika was lede van die Wêreldraad, onder meer ook die NG Kerke van die destydse Transvaal en die Kaap – dit was nog voordat die provinsiale NG Kerke later in een kerk verenig is.
Daar word toe besluit om na aanleiding van Sharpeville ’n kerklike konferensie te hou oor die toestand in Suid-Afrika onder toesig van die Wêreldraad. As ek reg onthou, het hierdie konferensie teen die middel van 1960 by Cottesloe naby Johannesburg plaasgevind.
By hierdie konferensie is ’n uitvoerige verklaring uitgereik met aanbevelings wat, indien dit geïmplementeer sou word, daarop sou neerkom dat die apartheidsbeleid van die Suid-Afrikaanse regering ingrypende veranderings moes ondergaan.
Daar is ook duidelike uitsprake gemaak oor die rol wat die kerk verwag is om te speel. Ook die eenheid van die kerk het ter sprake gekom – ’n baie sensitiewe saak vir die NG Kerk omdat die kerke binne die NG familie op rassegrondslag geskei was (soos dit trouens steeds is).
Die Cottesloe-uitsprake het, sagkens gestel, ’n beroering veroorsaak.
Afgevaardigdes van die NG Kerk het onder heftige kritiek deurgeloop, in so ’n mate dat byna almal van hulle teruggekrabbel het. Ds Beyers Naudé, wat in daardie stadium die moderator van die Transvaalse NG Kerk was, was een van die ligtende uitsonderings. Dit was dan ook die begin van sy wegbeweeg van die NG Kerk.
My eie storie is een van onvoorsiene gevolge.
Toe ek in Nederland hoor wat by Cottesloe plaasgevind het, het ek eerlik gedink my proefskrif oor die eenheid van die kerk was te mak en nie uitdagend genoeg nie. Toe dit anders uitdraai, was ek seker die verbaasste van almal. My naels was blykbaar vuiler as wat ek gedink het. Baie jare later sou dr Koot Vorster, die groot indoena van die NG Kerk in Kaapland, in die briewekolom van Die Burger skryf dat studente wat in die buiteland gaan studeer met vuil naels terugkeer na Suid-Afrika. Hoewel dit seker bedoel was as ’n soort algemene stelling, het hy in sy brief uitdruklik na my verwys. Binne die konteks van dr Vorster se denke het die vuilheid onder die naels vermoedelik verwys na liberalisme en, behoede my, kommunisme.
Uit respek vir my professore aan die Kweekskool het ek ná die verskyning van my proefskrif ’n eksemplaar aan elkeen van hulle gestuur. Een van die eksemplare het by prof Kolie Kotzé beland en dit is net hier dat hy, tipies oom Kolie, besluit het om sake in sy eie hande te neem as hy die geleentheid daarvoor kon kry. Die geleentheid bied homself toe ook aan: die jaarlikse teologiese dag wat aan die begin van elke jaar by die Kweekskool op Stellenbosch gehou word. Hierdie teologiese konferensie sou vroeg in Februarie 1961 plaasvind.
Die verklaring van Cottesloe en die beroering wat dit in die kerk en die land veroorsaak het, was nog hoog op almal se agendas. Die politici, die nasionale Afrikaanse koerante en Die Kerkbode het gesorg dat dit op die agenda bly. Die gevolg was dat die organiseerders van die teologiese dag se konferensie min moeite gehad het om op ’n tema te besluit waaroor gepraat sou word. Cottesloe natuurlik!
Toe is die vet in die vuur. ’n Botsing tussen die kerk en die staat dreig. Die boodskap van die staat aan die kerk by monde van die eerste minister, dr Hendrik Verwoerd, is vir geen misverstand vatbaar nie. Die kerk moet ophou om die teologiese meriete van die Cottesloe-besluite te bespreek; dit kan net die volk verwar. Daarom moet die konferensie oor ander dinge praat, oor alles behalwe Cottesloe.
Dié boodskap word direk vanuit die eerste minister se kantoor aan ds Kosie Gericke oorgedra. In daardie stadium was hy, in alles behalwe die titel, biskop van Stellenbosch en sommer ook visekanselier en raadvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch. Later sou hulle hom ’n eredoktor maak.
Dit is dalk moontlik, selfs baie waarskynlik, dat Verwoerd persoonlik met Kosie Gericke gepraat het. Wat ook al die geval mag wees, oor die uitslag van hierdie eensydige onderhandelings kon daar nooit enige twyfel bestaan nie. Die program vir die konferensie is verander. Ek het geen idee oor watter gewigtige teologiese onderwerp hulle sou praat nie. Die NG Kerk se leiers was altyd in staat om baie doeltreffend vroom rookskerms te skep.
Maar hulle het nie met oom Kolie rekening gehou nie. Hy, en vermoedelik ’n paar ander saam met hom, het besluit hulle sal hulle nie deur die staat laat voorskryf waaroor die konferensie gehou mag word nie. Hulle reël toe onmiddellik met die CSV om die Murraysaal vir ’n alternatiewe teologiese dag te gebruik. Die Murraysaal was in die ou CSV-gebou waar die Absa-gebou vandag staan.
Dit is by hierdie alternatiewe konferensie dat my proefskrif ter sprake gekom het.
Na wat my vertel is, het oom Kolie in ’n stadium die proefskrif in die lug gehou en gesê: “Hierdie proefskrif bevestig elke woord wat in die Cottesloe-verklaring opgeneem is.” Dit was natuurlik oordrewe – oom Kolie was altyd ’n bietjie geneig daartoe. Ek het nie by benadering al die probleme aangeraak wat by Cottesloe aan die orde was nie. Die tentatiewe voelers wat ek uitgesteek het om beswaar te maak teen ’n rasgeskeide kerk, het oom Kolie egter so oorweldig dat hy sommer Cottesloe as geheel daarin gelees het.
Die uitwerking van oom Kolie se woorde was gunstig vir die uitgewers van my boek. Talle alternatiewe konferensiegangers het glo die boek by die destydse CSV-Boekhandel (wat in dieselfde gebou as die Murraysaal was) bestel.
Vir my en my vrou het hierdie woorde nogal ’n ingrypende verandering in ons ná-Nederlandse toekoms in Suid-Afrika beteken, en dit sonder dat ons daarvan geweet het. Terwyl al hierdie dinge besig was om in Stellenbosch af te speel, was ons twee salig op pad na Suid-Afrika aan boord van die Randfontein, ’n skip van die Nederland-Afrika-Lijn.
Dit was ’n heerlike, rustige vaart, behalwe ’n storm in die Baai van Biscay reg aan die begin, ’n storm waarin Randu een van die weiniges was wat ongestoord haar gang gegaan het op ’n skip wat gelyk het of dit kwalik die hoë deinings kon baasraak. Reeds toe moes dit my vertel het dat my vrou enige storm kon hanteer – daar was nog baie wat sou kom.
Oom Kolie se (onbewuste) bydrae tot die verandering in ons toekomsplanne, soos ons daaroor op die Randfontein gedroom het, het ’n direkte invloed gehad op die plek waar ons ons sou kom vestig, Port Elizabeth. Maar waarom Port Elizabeth?
Nou moet ek eers die horlosie terugdraai en ’n wye draai gaan maak.
In my matriekjaar in 1951 op Dealesville in die Vrystaat, waar ek my hele skoolloopbaan deurgebring het, het daar sekere dinge gebeur wat daartoe gelei het dat ek uiteindelik in Nederland in die sendingwetenskap sou promoveer.
My pa, draer van die familienaam Jan Jonathan, wat teruggaan tot by die eerste Durand wat in Januarie 1689 as Hugenoot in Suid-Afrika voet aan wal gesit het, was die visehoof van die skool en ’n wiskunde-onderwyser. Hy het my nie net op skool ingelei in die besonderse en uitdagende wêreld van wiskunde nie, maar was in my standerd 9- en matriekjaar ook my katkiseermeester in die NG gemeente van Dealesville. Hy was ’n Calvinis in murg en been vir wie ek die grootste eerbied en bewondering gehad het. Sy sin vir reg en regverdigheid was algemeen bekend.
Dit was hy wat my en my groot vriend Jaap Furstenberg, wat van Soutpan gekom het en saam met my op hoërskool was, ons eerste werklike ontmoeting met die swart wêreld van Suid-Afrika gegee het. Hy het ons saamgeneem om Sondagskool te gaan hou in die swart woonbuurt (of lokasie soos ons dit toentertyd genoem het).
Hierdie ontmoeting met die swart kinders van Dealesville het ’n onuitwisbare indruk op my jong gemoed gemaak. Die kontras tussen hulle lewensomstandighede in die swart woonbuurt en wat ons in die wit gedeelte van Dealesville beleef het, was te groot en te opvallend om sommer net by my verby te gaan. Sonder dat ek dit toe besef het, is hier ’n saadjie gesaai wat later my totale lewe sou omkeer.
Die eerste resultaat was dat ek in hierdie tyd, in my matriekjaar, besluit het om ’n sendeling te word. My besluit was deel van ’n jeugdige geesteservaring terwyl ek gedurende die matriekeksamen op die skool se stoep gesit het, min wetend wat hierdie besluit alles behels en op watter paaie dit my sou lei.
Die eerste stap was om ná matriek na die UOVS te gaan vir die admissiekursus, as voorbereiding vir latere teologiestudies aan die Kweekskool van Stellenbosch. Ek was bevoorreg om op grond van my matriekuitslae die Thomas Robertson-beurs te ontvang wat die studiekoste vir my ouers minder sou maak.
Naas my studies in Grieks, Hebreeus en Latyn was dit veral die wysbegeerte wat my van die begin af bekoor het. Wysbegeerte van die wetsidee deur die Nederlander Herman Dooyeweerd het die filosofiese klok geslaan op die universiteit onder die invloed van proff Ras Venter en Herman Strauss. Skielik het die filosofie, veral ook die studie van die filosofiegeskiedenis, vir my vergesigte oopgemaak. Maar tog het daar iets geskort.
In die stilligheid het daar in my jong gemoed as student vrae ontstaan. Die herinnering aan wat ek op Dealesville ervaar het, en iets van my pa se sin van reg en regverdigheid het my telkens onrustig laat voel toe dit duidelik word dat my dosente in die wysbegeerte die apartheidsbeleid in die land gebruik (misbruik?) om dié beleid te ondersteun.
Hulle was selfs positief teenoor die regering wat in daardie jare die bruin bevolking van die kieserslys verwyder het deur politieke manipulasie. Die nasionale regering het die senaat vergroot om ’n tweederde-meerderheid te kry sodat hulle hierdie doelwit kon bereik.
Maar wie was ek om as jong student my stem te laat hoor en my geleerde professore aan te vat? Ek het buitengewone respek vir hulle gehad. Veral prof Strauss was my in so baie opsigte goedgesind. Ek bly dus die stilswyende, lojale student.
Dit is toe dat ek die eerste toets van my matriekjaar-besluit ondervind.
Terwyl ek met my honneursstudie in die wysbegeerte besig is, kom my twee professore, Venter en Strauss, na my toe met die aanbod dat ek die volgende jaar ’n pos as junior lektor aan die universiteit kan beklee as ek sou voortgaan met ’n meestersgraad in die filosofie. Die aanbod was vir my ’n groot versoeking, maar my belofte aan die Here om ’n sendeling te word, het té sterk in my geleef en ek het die aanbod van die hand gewys. Tot groot lof van my leermeesters het hulle my besluit aanvaar en my nie probeer oorhaal om hulle aanbod te aanvaar nie.
Dit was ook juis in hierdie tyd dat ek na ’n preek van prof Herman Bavinck in die Weskerk, wat ook as studentekerk vir NG lidmate gedien het, gaan luister het. Prof Bavinck, hoofleraar in die seningwetenskap aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, was op besoek in Suid-Afrika.
Sy teks dié aand was Sagaria 4:7: “Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel sal jy tot ’n gelykte word!” Dié aand het ek geweet ek het die regte besluit geneem. My volgende stap was dus: Stellenbosch toe om my as predikant te bekwaam om langs dié weg ’n sendeling te word.
Jaap Furstenberg wat saam met my honneurs in wysbegeerte gedoen het, gaan saam Stellenbosch toe om aan die teologiese krip van die NG Kerk by die Kweekskool te gaan staan. Phil Robinson, ’n mede-admissiestudent met wie ons groot vriende geword het, is die derde Bloemfonteiner wat Stellenbosch binneval.
Maar voordat ek meer oor Stellenbosch sê en die omkeer wat daar in my denke plaasgevind het, kan ek nie anders nie as om iets sydelings te noem wat baie later in my lewe van besonderse betekenis sou wees. Saam met my in my eerste jaar was daar ’n mooi student, Sonja Bell. Sy was ’n baie goeie student in Afrikaans en Nederlands en het die prys as die top-eerstejaarstudent in dié betrokke kursus gewen. Boonop was sy bekend as ’n begaafde pianis wat saam met haar studies ook musiek geneem het.
In my eerste jaar het ek haar een aand saamgeneem kerk toe. Volgens haar het ek die aand beweer dans is teen my beginsels en is dus sonde. Self onthou ek niks daarvan nie, al klink dit baie soos ek wat op daardie tydstip nogal ’n ou was wat baie aan beginsels geglo het. Al wat ek wel kan onthou, was dat ek geweier het om volkspele te speel. Hier was nie ’n beginsel op die spel nie. Ek het dit gewoon simpel gevind. ’n Senior student in die wysbegeerte wat bekend was as ’n stoere Calvinis, het my kwalik geneem: ’n Goeie Calvinis en Afrikaner speel volkspele, uit en gedaan.
In my finale jaar aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) sou ek saam met Sonja Bell in die Studenteraad dien, maar daarna het ons paaie uiteen gegaan. Sy sou later trou met die destydse voorsitter van die Studenteraad, Christof Hanekom.
Tydens my Kweekskooljare het ek ’n verhouding met Randu aangeknoop; ek het haar tydens ’n vakansie op Villiers, waarheen my ouers verhuis het, ontmoet. Sy was ook ’n Du Rand (net anders gespel). Ná my vertrek na Nederland om onder prof Herman Bavinck sendingwetenskap te studeer, het sy my gevolg en ons is daar getroud. Meer as 30 jaar later, ná Christof Hanekom en Randu se dood, is ek en Sonja Bell (toe natuurlik Sonja Hanekom) getroud.
Sendingwetenskap aan die Vrije Universiteit van Amsterdam! ’n Eienaardige keuse vir iemand wat intussen aan die Kweekskool sy meestersgraad in die wysbegeerte saam met sy teologiestudies voltooi het en by uitstek belang gestel het in die sistematiese teologie of dogmatiek, soos dit destyds by voorkeur genoem is.
My destydse besluit om ’n sendeling te word, het nie die teologiestudies ongedaan gemaak nie, al was die opleiding by die Kweekskool hoofsaaklik op ’n bediening in die wit NG Kerk gerig. Maar die sendingwetenskap was, om die minste te sê, afgeskeep en my belangstelling was gekonsentreer op die dogmatiek. Hiervan was prof Bennie Keet die professor, terwyl prof Kolie Kotzé, wat self nooit in die sending was nie, sendingwetenskap as onderdeel van die praktiese teologie doseer het. Dat my sendingvoorneme nie uitgesterf het nie, bly ’n wonder van God se genade.
Tog het hier iets belangriks gebeur. Met my koms na Stellenbosch verskyn daar ’n boek deur prof Keet, Waarheen Suid-Afrika?, wat ek later besef het een van die dinge was wat die sluimerende koersverandering in my lewe laat opleef het. Die onrus in my gemoed wat ek in Bloemfontein ervaar het, kon ek nou duideliker vir myself uitspel.
Prof Keet se boek was ’n noodkreet teen die apartheidspolitiek van die regering. Skielik begin daar ook geleidelik in my ’n reaksie kom teen die idee van ewige en onveranderlike beginsels waarmee ek na die Kweekskool gekom het. Een van hierdie beginsels was apartheid as God se wil vir ’n land met ’n verskeidenheid volke. Prof FJM Potgieter, ’n besonder ernstige gelowige mens wat op daardie tydstip kerkgeskiedenis doseer het, het dié idee by ons ingeprent.
In 1957 het daar ’n polemiek in Die Burger ontstaan tussen hom en prof Keet. Ek onthou dit nog asof dit gister gebeur het, dat ek tydens die polemiek aan Jaap Furstenberg, in die huisie waarin ons in Van Ryneveldstraat 3 gewoon het, byna met jammerte opgemerk het dat ek die evangelie duideliker hoor in die skrywes van prof Keet as in dié van prof Potgieter.
Met hierdie, nog grotendeels verwarde, teologiese gemoed is ek Nederland toe om in die sendingwetenskap aan die Vrije Universiteit in Amsterdam by prof Herman Bavinck te promoveer.
Die moontlikheid om in die buiteland verder te studeer is moontlik gemaak deur ’n studiebeurs, die sogenaamde Uniebeurs, op grond van my skripsie vir my meestersgraad met die titel “Wysgerige grondslae van die ius resistendi by Calvyn”. Ius resistendi verwys na die reg van verset teen ’n owerheid. Jare later sou ek die ironie verstaan van hierdie onderwerp wat ek gekies het. Jaap Furstenberg het ook vir sy meestersgraad “Dr A Kuyper se wetenskapsleer en kosmologie” ’n Uniebeurs gekry en ons is saam Nederland toe, hy om by prof GC Berkouwer dogmatiek te studeer.
In Nederland het ons weer die bande opgetel met medestudente aan die Kweekskool, Hennie Rossouw en sy vrou, Hester, en Bethel Müller en sy vrou, Helen. Ons het groot vriende geword in Nederland en hulle invloed, veral baie gesprekke met Hennie, was die bykomende faktore wat my laat besluit het om in ’n sendingperspektief oor die eenheid van die kerk te skryf en nie om een of ander meer obskure sendingwetenskaplike onderwerp aan te pak nie.
Dat my proefskrif op die ou einde meer “dogmaties” as “sendingwetenskaplik” was, het saamgehang met die byna hibridiese gemoedsbelewenis wat ek destyds ervaar het: my voorliefde vir die teologies-wysgerige sistematiek (dogmatiek) en my selfopgelegde verbintenis tot sendingwerk.
Met die verdediging van my proefskrif by die Woestduincentrum in Amsterdam op 27 Januarie 1961 was Jaap Furstenberg en Bethel Müller my twee paranimfe. Die oorspronklike idee van ’n paranimf was om die promovendus by te staan as hy of sy in die moeilikheid kom, maar die idee het heeltemal verwater. Al wat hulle moes doen, was om, soos ek, geklee in swaelstert-aandpakke, op aandag te staan totdat die pedel van die universiteit uitgeroep het hora est (“die uur het aangebreek”) en die promovendus se marteling verby was. Hennie Rossouw was die eerste “vriendelike” aanvaller op my akademiese pennevrug.
Hennie sou later, ná sy promosie by Berkouwer met ’n uitstaande proefskrif “Klaarheid en interpretasie”, wat oor die duidelikheid van die Skrif en die interpretasie daarvan gehandel het, ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch (US) word, en later ook die viserektor.
Bethel, wat in prediking gespesialiseer het, sou die professoraat aan die Kweekskool in die amptelike vakke (praktiese teologie) opneem.
Jaap sou ná sy doktoraal in Amsterdam in Suid-Afrika promoveer oor Berkouwer se dialoog met die Katolieke teologie en in sy laaste bedieningsjare die rektor van Hugenote Kollege in Wellington word.
Ná hierdie baie lang draai kan ek terugkeer na dit waarmee ek oorspronklik begin het: my proefskrif by die Vrije Universiteit, my en Randu se terugkeer na Suid-Afrika met die opwindende vooruitsig om die evangelie in Port Elizabeth te bedien, en my vraag: Waarom Port Elizabeth?
Onthou, ek wou ’n sendeling wees.
In Amsterdam, ’n maand of twee voor my promosie, skryf ek aan die Sendingkantoor van die NG Kerk in Kaapstad en stel my tot beskikking vir enige sendingpos waar hulle my sou kon plaas. Die destydse binnelandse sendingsekretaris, ds Els, lê toe blykbaar my naam onder meer aan die Sendingraad van Port Elizabeth se twee NG ringe voor. Dié laat weet toe aan ds Els, en ds Els aan my, dat Port Elizabeth my as “sendeling” in die swart gebiede van New Brighton en Kwazakhele wil gebruik. Uitstekend! Baie dankbaar!
Die bietjie besittings wat ons in Nederland bymekaargemaak het en my boeke word deur ’n Amsterdamse firma gekrat en saamgestuur met die boot. Adres: Durand, p/a NG Sendingraad, Port Elizabeth. Die versekering word gegee dat die twee kratte nie by die Kaapstadse hawe afgelaai sou word nie, maar sou deurgaan tot by Port Elizabeth. Die Sendingraad sou sorg vir die afhaal van die kratte, aldus ds Els. Ek en Randu klim in die Kaap af, bly ’n paar dae op Stellenbosch oor by Dian Joubert, ’n lektor in sosiologie, en vat die trein na Villiers om ons ouers en ander familie te groet voordat ons na Port Elizabeth vertrek.
Alles mooi beplan, maar ons het nie rekening gehou met prof Kolie Kotzé nie.
Die skrywer van die boek “wat elke woord bevestig wat in die Cottesloe-verklaring opgeneem is”, het skielik baie omstrede geword. Niksvermoedend en naïef het ek en Randu in die Kaap van storms beland. Onbewus daarvan dat oom Kolie se woorde al kuslangs Port Elizabeth bereik het, het ons op die trein geklim na Villiers waar ons familie ons op die Vereeniging-stasie verwelkom het. Groot vreugde oral oor, maar daardie aand lui die telefoon. Ds Els, baie verleë en apologeties. Port Elizabeth wil my nie meer hê nie.
Maar alles is darem nie net slegte nuus nie. As ek gewillig is, kan hulle my na Cala in die Transkei stuur, dit is die maklikste manier om ’n ongemaklike situasie op te los. Hulle sal ook sommer reël dat ons kratte, wanneer dit in die Baai land, aangestuur word na Cala.
Cala, waar op aarde is dié plek?
Naarstig bestudeer ek en Randu die eerste beste padkaart. Ná ’n rukkie vind ons Cala: volgens die aanduiding ’n baie klein plekkie in die noordwestelike hoek van die Transkei, suid van Elliot en oos van Queenstown. Dáár sal my sendingveld wees, onder die amaXhosa.
[aesop_chapter title=”3. Molweni, mawethu” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]
L
etterlik vertaal beteken hierdie opskrif: “Goeiemôre, my mense.” Hoewel ek hierdie woorde nie geken het en kon uitspreek toe ons op Cala aangeland het nie en trouens ook nie geweet het wat dit beteken nie, sou dit later vir my ’n besonderse betekenis kry. Die amaXhosa het my mense geword.
So iets sou nie oornag gebeur nie. Baie jare (van baie moeite doen) sou eers verby moes gaan, en baie gebeurtenisse, sommige traumaties, sou eers moes plaasvind.
Om van een kultuur en leefwêreld oor te stap na ’n ander, is nie ’n eenvoudige saak nie. Ná baie jare kom jy steeds agter dat jy nog nie werklik verstaan of verstaan word nie; dat jou aanneming deur die mense genadedade van hulle kant af is; dat jy die vreemdeling in hulle midde is, die buitestander wat ’n verhaal kom vertel wat vir baie vreemd is, maar dat jy nogtans as ’n vriend aangeneem word.
Om as ’n predikant op ’n sendingstasie te leef, is ’n vreemde ervaring. Op ’n sendingstasie is daar ’n samevloeiing van verskillende mense, wat ’n onvermydelike botsing van persoonlike belange tot gevolg het, maar waar almal, swart en wit, tog min of meer dieselfde doel voor oë het.
Eerstens is daar die opvallende kontras tussen – laat ons maar eerlik wees – die ietwat in sigself gekeerde lewe en sosiale verbintenisse tussen die oorwegend wit inwoners van die sendingstasie of mission, soos dit algemeen bekendstaan, en die wêreld daar rondom van swart mense wat in hulle tradisionele kleihutte woon. In Cala se geval ronde, versierde kleihutte met grasdakke, en hier en daar ’n vierkantige hut met ’n sinkdak.
Wanneer jy in die nag die tromme van een of ander fees hoor, dan raak jy as sendeling bewus van die andersheid van die mense rondom jou. Soggens wanneer jy uitgaan en langs die vroue voor hulle hut by ’n vuurtjie gaan sit (die mans is maar skaars, want die meerderheid is weg myne toe om geld te gaan verdien) – die vroue met witgesmeerde gesigte, geklee in vollengte- katoenagtige komberse wat met okerkleurige modder gekleur is, dikwels met een of twee swart omboorsels naby die voete, en die jong ongetroudes met kaal bolywe, okerkleurige rompe en baie krale – daal daar ’n magteloosheid oor jou. Dit is die vreemde wêreld van die amaqaba (letterlik die “rooigeverfde mense”) wie se taal jy nie ken nie. Deur ’n tolk wat gewillig is om saam met jou te kom, moet jy die evangelie op die eenvoudigste manier denkbaar bring.
Dit is dan dat jy as nuwe, jong sendeling begin wonder oor jou sendingroeping en weet: Vorentoe is daar net een koers om te gaan – die moeisame pad om hierdie mense se taal aan te leer.
Die volgende vyf jaar (van 1961 tot 1965) was inderdaad moeisame jare waarin ek as volwasse mens ’n nuwe, totaal vreemde taal moes aanleer. Bedags saam met Alfred Tsengiwe, koshuisvader van die seunskoshuis op die sendingstasie, as tolk en saans met Koos Oosthuizen se boek Leer self Xhosa, om iets van hierdie Nguni-taal se grammatikale struktuur te verstaan en te beheers.
Gelukkig was daar ook iets soos ’n taalskool wat een keer per jaar vir ’n maand op Port St Johns aangebied is deur twee Xhosa-kenners, Koos Oosthuizen, die skrywer van bogenoemde Xhosa-grammatikaboek, en die beminlike Pine Pienaar, wat beter Xhosa gepraat het as die meeste Xhosasprekendes self.
Alles was egter nie net Xhosa-taalmarteling nie. Op Cala se sendingstasie was daar ’n teringhospitaal, ’n hoër- en laerskool en ’n opleidingskool vir onderwyseresse. By hierdie kinders kon ek my in die begin behelp met Engels in die kerkdienste, by die Sondagskool en katkisasie en dikwels met huisgodsdiens in die aande by die koshuise.
Die katkisasieklasse met die jongmense was vir my ’n vreugde. Baie jare later sou ek kon ervaar dat een van my katkisante, Fezi (of Benjamin) Mbenenge, as predikant my opvolger in ’n afgestigte gemeente van Kwazakhele in Port Elizabeth sou word, asook die moderator van die NG Kerk in Afrika. Tot my beskaming praat hy steeds van my as sy “geestelike vader”. Sy seun is tans ’n predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) op George.
Ek het reeds daarop gewys dat ’n sendingstasie soms ’n tipe wit enklave binne ’n groot swart wêreld kan wees. Cala was in hierdie verband geen uitsondering nie, hoewel die samestelling van die personeel en die bestaan van ’n teringhospitaal en skole met koshuise op die oog af ’n ander indruk geskep het. Daar was voortdurend baie swart mense, kinders en volwassenes, teenwoordig. Tog het die wit personeel in hulle eie klein wit wêreldjie geleef, wat wel op bepaalde en belangrike tye deurbreek is en dit dan onteenseglik duidelik was dat jy jou op ’n sendingstasie bevind. Dit was wanneer almal, swart en wit, vroegoggend in ’n rondawel bymekaargekom het om saam godsdiens te hou en te bid; wanneer almal saam op ’n Sondagoggend, swart en wit, klein en groot, in die kerkgebou byeengekom het vir ’n erediens, en wanneer die lidmate uit die buiteposte in groot getalle na die sendingstasie opgeruk het vir spesiale geleenthede en hulle lofsange die ruimtes rondom die mission gevul het.
Dat hierdie groot byeenkomste, ’n demonstrasie van ons almal se eenheid in Christus, net sporadies kon plaasvind, het saamgehang met die feit dat die lidmate en die persone aan wie die evangelie oorgedra is, oor ’n groot gebied verspreid gewoon het. Gevolglik was daar ’n groot aantal buiteposte waarvan meer as een diep in die boendoes en moeilik met ’n voertuig bereikbaar was. Hier is dienste gehou en die sakramente by geleentheid bedien, terwyl die verdere geestelike versorging aan swart evangeliste oorgelaat is.
Tog kon ek, diep in my, nie die gevoel van ’n wit enklave ontsnap nie. Ons het op Cala geleef in die sestigerjare van apartheid-Suid-Afrika, sendelinge van die NG Kerk wat apartheidsdenke teologies (ideologies) gevoed en gesterk het. Een van die uiterlike simbole hiervan – waaroor ek vandag nog skaam is – het tot uitdrukking gekom in die argitektuur van die sendelinge se wonings op die sendingstasies in die Transkei. Aan die voorkant van die sendeling se studeerkamer was daar ’n aparte “Bantoe-ontvangskamer”.
Met my en Randu se aankoms op Cala was daar vir ons geen woning nie. My voorganger as sendeling op Cala, Hannes Venter, is aangestel as administratiewe hoof van die NG Sending in die Ciskei, maar het op Cala aangebly omdat dit binne bereik van die sendinggebiede van die Ciskei was. Ek en Randu moes toe noodgedwonge by Hannes en sy vrou, Isabel, intrek terwyl ons huis aan die bou was – Bantoe-ontvangskamer en al.
Terwyl ons ’n jaar lank by hulle gebly het, het ek Hannes se ontvangskamer as my studeerkamer gebruik. Met die bou van ons huis sluip daar toe egter ’n foutjie in: Die sendingbouer lees die planne verkeerd en met die grawe van die fondamente kom my ontvangskamer aan die agterkant van die studeerkamer. Die gevolg was dat hierdie vertrek bloot ’n deurgang tot my studeerkamer geword het. Maar die idee het bly staan – tot my en Randu se verleentheid.
Hierdie apartheidsmentaliteit in die sendingwerk van die NG Kerk destyds het my verbaas, maar nie in so ’n mate dat ek my stem laat hoor het nie. Mettertyd sou ek egter leer dat die apartheidsgedagte by baie sendelinge sterk geleef het.
Natuurlik nie by almal nie. David Bosch wat saam met Annemie op Madwaleni die sendingpaar was, was een van die sterk stemme in hierdie verband. Naas hom het ’n beduidende getal later al hoe sterker van hulle laat hoor. Gesprekke by ringe, sinodes en ander kerklike byeenkomste het my nie net dikwels met stomheid geslaan nie, maar soms ook met ingehoue woede laat reageer. Diegene wat wel meer krities was, moes uit die kringe van die NG Kerkleiding hoor: “As jy na die stem van swart leraars luister, hoor jy die moeder, maar die stem van ’n sendeling klink soos dié van ’n kommunis”, of iets dergeliks.
Maar terug na my storie oor Cala en sy mense.
My en Randu se aankoms op Cala was baie onopvallend en onindrukwekkend. ’n Byeenkoms van die Ciskei se Sendingraad, waarvan Hannes pas voorsitter geword het, was aan die gang en hulle het van ons koms vergeet. Randu se ouers het vanuit Villiers ons vergesel en dit was ’n groot geskarrel om vir ons almal slaapplek te gee. Ons sou eers later ontdek hulle het van ons koms vergeet, maar ons sou ook ontdek watter wonderlike mense ons uiteindelik tuis sou laat voel op die sendingstasie.
In eerste instansie was daar Hannes en Isabel by wie ons aanvanklik gewoon het. Hulle het ons baie tuis laat voel, ten spyte van hulle ongerief. Dit het die begin van ’n lewenslange vriendskap beteken. Daarnaas was daar Kockie, die matrone van die pas voltooide teringhospitaal; Kitty Coetzee wat ’n liefde-haat-verhouding met ’n Volkswagen-kewer gehad het; Siegfried Schwartz, ’n onderwyser met ’n kanonafslaan op die tennisbaan; Pieter van Heerden, die sendingboer, en sy vrou, Joey; Kappie, die skrynwerker, en Philpa, Kappie se vrou; Oom Hannes Rothman, die boekhouer vir die sending, en sy gesin van vyf kinders wat saam met ons daar aangeland het (ons kon nie glo ’n man van in die veertig kon in so ’n laat stadium van nering verander nie), en nog later meer personeellede wat gekom en gegaan het. Vyf jaar lank was hulle ons wit “stasiegenote” saam met Mem, die matrone van die meisiekoshuis, en Alfred Tsengiwe, die koshuisvader en sommer ook my tolk gedurende die eerste fase van my bediening.
En dan was daar die gemeente met die evangeliste wat ek nooit sal vergeet nie: evangeliste Tyutu by Rebelskloof, Nqoko by Tsengiwe en Fihla by Mbenge. Sou ek ooit die beskamende en byna bonatuurlike vroomheid van umvangeli Tyutu kon vergeet, of umvangelikazi Nqoko agterop haar man se motorfiets?
Op Cala het ek ook my hand aan bouwerk gewaag. Op ’n buitepos, Mceula, het ek en een van die diakens van hierdie wyk ’n rondawelkerk gebou – nie ’n klein rondaweltjie nie, maar sommer een waarin meer as 200 mense kon inpas as hulle sonder stoele plat op die grond sit. Die mure is van kleistene, sogenaamde “Kimberley-bricks”, gebou. Die vroue het die stene gemaak deur klei en gras te meng en in houthouers te laat droog word. Die stene was dus groot en swaar, maar as jy een neergesit het, het jy ’n ver ent gebou.
Omdat die mure van klei was, kon dit nie ’n grasdak met ’n baie groot span dra nie, daarvoor was so ’n dak te swaar. Maar omdat ek opsluit ’n grasdak wou hê sodat dit by die hutte rondom sou pas, was ons verplig om eers ’n sterk struktuur van teerpale op te rig om die dak te dra. Gelukkig kon Kappie ons hiermee help. Die diaken (ek kan nie meer sy naam onthou nie) het die dekwerk gedoen – en dit goed gedoen. Dit is nie iets wat enige iemand kan aanpak nie, glo my. Ek het wel self die sinkkappie geïnstalleer, heel bo waar alles bymekaarkom. Vir my was dit ’n waagstuk met my hoogtevrees op ’n baie skuins grasdak. ’n Skuins grasdak kan ongelooflik glad wees.
Ek het selfs begin om ’n tweede kerkie by ’n buitepos te bou. Hierdie keer het ek dit gedoen op aandrang van ’n ouderling, Zengetwa, wat ’n buitengewone ywer vir die verspreiding van die evangelie onder sy mense getoon het. Die gebied waarin hy gewoon en as ouderling gewerk het, was Sifonondile. Hier was geen evangelis nie. Zengetwa het al hierdie pligte op hom geneem, ten spyte daarvan dat hy as ’n kleinboer op ’n klein stukkie grond sy gesin aan die lewe moes hou.
My idee was om ’n kerkrondawel, soortgelyk as die vorige een op Mceula, op te rig, maar Zengetwa het viervoet vasgesteek. ’n Kerk is nie ’n kleirondawel nie. ’n Kerk is ten minste reghoekig met ’n sinkdak. Gaan kyk maar na die kerk op die sendingstasie! Die moderne argitektuur van die kerkgebou met sy sinkdak op die sendingstasie, waarvoor ek gedeeltelik verantwoordelik was, het miskien ’n verkeerde boodskap uitgestuur oor hoe ’n kerk behoort te lyk. Al gaan die mure met “Kimberley-bricks” gebou word, moet Sifonondile se kerkdak ten minste van sinkplate wees – met ’n toring! Gelukkig is ek daar weg voordat die kerk klaar was. Ek weet nou nog nie hoe ’n mens ’n toring met “Kimberley-bricks” bou wat staande sal bly nie.
Hiermee moet ek begin om Cala te verlaat. Tog is daar enkele sake wat ek nie kan of wil verswyg nie.
Die eerste is die minder belangrike feit dat ek op Cala vir die eerste keer my hand op ’n tikmasjien gesit het om iets te skryf wat op ’n gepubliseerde boek uitgeloop het. Die titel van dié boek was Christelike sending – allesomvattende roeping. Daarin het ek so ’n katvoet poging aangewend om krities na die Suid-Afrikaanse kerklike en politieke situasie te kyk.
Die tweede en baie belangriker boek waarop ek baie trots was, het ek ook op Cala begin skryf. Dit was bedoel as ’n katkisasieboek wat ek in baie naïewe en seer sekerlik gebrekkige Xhosa geskryf het. Die doel van die boek was om die Bybelse boodskap saam te vat onder die titel Lisisibane izwi lakho (“U Woord is ’n lamp”). Maar oor hierdie twee boeke vertel ek later meer wanneer ek ’n oorsig probeer gee oor my publikasies en die herinnerings aan die skryf daarvan.
Terwyl ek oor boeke praat, kan ek nie nalaat om te vertel dat die twee kratte boeke wat ek uit Nederland na Port Elizabeth gestuur het in die waan dat ons daarheen sou gaan, toe by Cala aangekom het nie – per trein tot by Cala Road en toe per spoorwegbus tot op Cala … Een van die twee kratte was oopgebreek en die twee hoepels waarmee dit in Nederland verstewig is, weer teruggeplaas en met ’n paar yslike spykers vasgekap. Van die spykers het hulle pad gevind tot in twee van my boeke, Bavinck se Gereformeerde Dogmatiek I en II. Al lees ek hulle nie meer nie, hou ek hulle steeds in my rak as ’n soort sigbare aandenking van die Suid-Afrika waarheen ons teruggekom het.
Hierdie gebeure was vir my die eerste aanduiding dat dit wat ek doen en lees dopgehou word. Ek was dalk in daardie stadium ’n bietjie paranoïes, maar dit is tog later bevestig. Ek het nou vir die eerste keer begin belangstel in die Veiligheidsdiens van die apartheidstaat. Maar daaroor vertel ek meer in die volgende hoofstuk.
Die laaste en belangriker saak wat ek ten slotte wil noem, is dat my oudste kind, my dogter Aninka, die eerste nege maande van haar lewe op Cala deurgebring het. Terwyl ons met ’n ringsitting in Oos-London besig was en ek by Piet en Denise Jonas, ’n sendelingpaar, tuisgegaan het, is sy op 14 Maart 1964 in die Frere-hospitaal in dié stad gebore. Met hierdie bondeltjie mens is ek en Randu terug na die sendingstasie op Cala.
[aesop_chapter title=”Lees verder” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]