Hoofstukke
30 dae deur Lukas

Loskerf

Inhoud

God'sMystery-Fr.Cov.inddWeek 1: Oopkerf
Groepstudie: Here, leer ons bid (Luk 11:1-4)
Dag 1: Kerf voortdurend (Luk 11:5-13)
Dag 2: Kerf en laat kerf (Luk 17:11-19)
Dag 3: Kerf geduldig (Luk 18:1-8)
Dag 4: Kerf jouself oop (Luk 18:9-14)
Dag 5: Gebed kerf ’n visie oop (Luk 10:1-3)

Week 2: Saamkerf
Groepstudie: Saamkerf oor klowe heen (Luk 9:51-56)
Dag 1: Aanpasbare agendas (Luk 18:15-17)
Dag 2: Saamkerf van gelykes (Luk 13:10-17)
Dag 3: Wanneer ver naby kom (Luk 10:25-37)
Dag 4: Saam in siekte (Luk 14:1-6)
Dag 5: Geeneen minder of meer (Luk 18:35-43)

Week 3: Opkerf
Groepstudie: Kelners (Luk 17:7-10)
Dag 1: Eet wat op jou bord is (Luk 10:1-12)
Dag 2: Tafelmaniere (Luk 14:7-14)
Dag 3: Gastelys (Luk 14:15-25)
Dag 4: Sout (Luk 14:34-35)
Dag 5: Maaltyd is deeltyd (Luk 15:11-32)

Week 4: Wegkerf
Groepstudie: Brugbou (Luk 16:19-31)
Dag 1: Om weg te sny (Luk 12:13-21)
Dag 2: Bang vir verloor (Luk 12:22-34)
Dag 3: Slim kerf (Luk 16:1-9)
Dag 4: Ewig kerf (Luk 18:18-30)
Dag 5: Regmaak wat stukkend is (Luk 19:1-10)

Week 5: Inkerf
Groepstudie: Inkerf begin by jou ore (Luk 10:38-42)
Dag 1: Wat maak Jesus bly? (Luk 10:21-24)
Dag 2: Wat maak óns bly? (Luk 11:24-28)
Dag 3: Inkerf en uitkyk (Luk 11:33-36)
Dag 4: Buite blink en binne … (Luk 11:37-42)
Dag 5: Wat gaan régtig in jou hart aan? (Luk 12:1-3)

Week 6: Uitkerf
Groepstudie: Petrus verloën Jesus (Luk 22:31-34, 54-62)
Dag 1: Jesus kerf ’n gemeenskap uit (Luk 22:14-23)
Dag 2: Jesus in Getsemane (Luk 22:39-46)
Dag 3: Vader, vergeef hulle … (Luk 23:26-34)
Dag 4: Jesus, dink aan my … (Luk 23:35-43)
Dag 5: Vader, in u hande … (Luk 23:44-49)

Voorwoord

Kerf

Die titel van dié boek verwys na beeldhouwerk of houtsneewerk. Goeie kuns, sê iemand, is gewoonlik real; dis outentiek; dis “in die oomblik”. Dis soos wat die Bybel ook is. Nie soos die Facebook-foto’s wat almal netjies ge-airbrush en ge-photoshop word nie.

Ek dink aan die woorde wat oorgelewer is as komende van Michel­angelo: “There was an angel in the stone and I chipped to set it free.” Destyds het oorlede prof Carel Boshoff by geleentheid die werk van ’n Zimbabwiese kunstenaar-kerwer op sy kleinhoewe uitgestal. Een kant was ’n voorwerp wat nie van dieselfde gehalte as die res was nie. Die man het verduidelik: “Daar wás wel ’n dier in die hout, maar ek kon dit nie mooi uitgesny kry nie.” En so het die stuk misluk.

Dus, uitbeitel om iets vry te laat … dit is wat God ook doen.

Inhoud en medewerkers

Daar is ses weektemas wat elk ’n faset van hierdie (her)skeppingsproses deur God uitbeeld. Dit is:

1. Oopkerf wat handel oor gebed. Gebed is een van die besondere kenmerke van die Lukasverhaal. Die skrywer is Christi Thirion (NG gemeente Kenridge).

2. Saamkerf wat iets van inklusiwiteit of omarming verwoord, soos die draai van ’n gelamineerde poot vir ’n meubelstuk. Die skrywer is Nina Müller van Velden (Universiteit Stellenbosch).

3. Opkerf is ’n beeld wat aan kosmaak herinner – ’n mens kerf byvoorbeeld verskillende groente op vir ’n bredie. Dié week handel oor maaltye, wat ook ’n kenmerk van Lukas is. Die skrywer is Melanie Thirion (NG gemeente Kenridge).

4. Wegkerf gaan oor besittings. Dit roep die beeld op van oortollige materiaal wat weggesny of weggekap word wanneer ’n kunswerk geskep word. Die skrywer is Johann du Plessis (NG gemeente Kenridge).

5. Inkerf slaan op ons reis na binne. Dit gaan oor branding; wanneer ’n merk aangebring word om iets as outentiek te waarborg. Die skrywer is Andries Cilliers (NG gemeente Sonstraal).

6. Uitkerf gaan oor lyding; spesifiek die lyding van Jesus. Dit is ook die enigste weekstudie wat nie binne die reisverhaal val nie, want dit kom uit Lukas 22. Dit is geskik om tydens die Groot Lydensweek gebruik te word en sluit ’n ekstra preekriglyn in. Die skrywer is ook Andries Cilliers.

Voor die weekstudies in hierdie boek is daar ’n kort inleiding tot die reisverhaal in die Lukasevangelie. Dit is geskryf deur Johann du Plessis.

Vir elke weektema is daar ’n preekriglyn en ook ’n kort videogreep wat die groepstudie inlui. Dit is beskikbaar op Bybel-Media se webwerf.

Hoe om hierdie boek te gebruik

Elke weektema bestaan uit ’n preekstudie, groepstudie en vyf dag­stuk­kies. Die teks vir die preek en die groepstudie is dieselfde. Die groep­studie volg verkieslik op die preek van die vorige Sondag.

Elke studie het vyf rubrieke. Dit bly deurgaans dieselfde sodat ’n mens ervaar dat dit deel word van jou daaglikse omgang met God. Die rubrieke is:

Rus

Daar is verskeie maniere om tot rus te kom en te fokus. Die punt is, baie mense hou hulle stiltetyd ná ’n dag se harde werk en moet tyd maak om af te wen en op God en op die Bybel te fokus. Doen dit deur rustig asem te haal terwyl jy jou oë toemaak, deur na rustige musiek te luister of deur jouself in jou gedagtes te verplaas na ’n ander konteks. Lees dan die instruksies onder die rubriek en voer dit uit.

Luister

In hierdie deel van die dagstukkie probeer ons luister na die Woord. Lees die Skrifgedeelte genoeg kere dat jy die detail kan onthou – ons is geneig om dit juis nie te doen nie! Daar is gewoonlik opmerkings oor die agtergrond van die gelese gedeelte en aanduidings van fokuspunte om jou te help nadink. Reageer op die vrae wat gestel word. Jy kan dit selfs in die boekie neerskryf.

Ons luister ook saam. Trouens, ons hoor God praat wanneer ons na ander gelowiges luister. In die groep is dit maklik, maar vir die dag­studies sal dit goed wees om iemand as gespreksgenoot te hê wat ook met die boek besig is, byvoorbeeld jou man of vrou, of ’n vriend
of vriendin.

Lewe

Onder hierdie rubriek word ons uitgedaag om die insigte toe te pas. Dit help niks ons bestee tyd aan die Bybel, maar doen nie wat ons ont­dek God se wil is nie.

Bid

Die studie help jou deur ’n onvoltooide sin of stelling. Jy kan natuurlik ook jou eie reaksie en verbintenis tot die Here rig. Skryf jou gebed in die boek neer.

Familiewenk

Ons probeer om ook in familieverband op die Here se Woord te rea­geer. Daar is duidelike riglyne wat julle kan volg. Familietyd rondom die Bybel is die ideale tyd om julle kinders te leer om hulle geloof uit te leef. ’n Mens doen dit deur saam projekte aan te pak waardeur julle ’n verskil in ander se lewe kan maak en julle geloofsverbintenis aan die Here gedemonstreer word.


Inleiding tot Lukas se reisverhaal

1. Die inhoud en opbou van Lukas

’n Mens kan Lukas se inhoud geografies verdeel. Die verhaal “beweeg” oor die algemeen deur verskillende gebiede, vanaf die begin in Judea, deur Galilea, dan doelgerig op reis na Jerusalem en dit eindig binne-in Jerusalem self. Die laaste deel van Jesus se aardse lewe wat alles in Jerusalem afspeel, word verder in twee temas onderverdeel, naamlik die verhale van Jesus se lyding en sterwe (die sg Lydensberig) en die verhale oor sy opstanding en hemelvaart (die sg Opstandingsberig). Die ses onderdele val soos volg uiteen:

Die geboorte- en kinderverhaal (Luk 1 – 3)

Benewens die voorspellings van Johannes die doper en Jesus se ge­boor­tes, vind ’n mens hier ’n kort samevatting van Johannes se be­die­ning, asook Jesus se geslagsregister en die verhale van sy doop en sy versoeking in die woestyn.

Jesus se bediening in Galilea (Luk 4 – 9:50)

Hierdie reeks episodes gaan veral oor Jesus se ware identiteit – wie is Hy werklik? Die beskrywing van Jesus se eerste optrede in Nasaret waar Hy grootgeword het, staan bekend as ’n “programmatiese” teks omdat dit in ’n neutedop die verloop van sy ganse bediening uitspel: dit is sy boodskap, die ontvangs daarvan en die verwerping van Hom as Persoon.

’n Uitgebreide reisverhaal (Luk 9:51 – 19:10)

Die beskrywing van Jesus se reis na Jerusalem is deel van die Evangelie-tradisie en kom ook in die ander sinoptiese Evangelies, Matteus en Markus, voor. In Lukas word dit egter baie uitgebrei en baie van die mate­riaal wat net in Lukas voorkom, word in hierdie gedeelte gekry of ge­meenskaplike materiaal, as ’n mens dit met die ander sinoptiese Evangelies vergelyk, word hier ingevoeg.

Jesus se bediening in Jerusalem (Luk 19:11 – 21:38)

Dit sluit Jesus se intog in Jerusalem, verskeie gelykenisse en die pro­fetiese rede in.

Die lydensberig (Luk 22 – 23)

Dit bevat die beskrywings van die instelling van die nagmaal, Jesus se gevangeneming en verhore voor die Joodse Raad, Herodes en Pontius Pilatus en sy uiteindelike kruisiging en dood.

Die opstandingsverhale en die hemelvaart (Luk 24)

Dit beskryf Jesus se opstanding, verskeie van die verskynings aan sy volgelinge – waartydens ook onderrig en opdragte aan hulle gegee word – en die hemelvaart.

2. Die reistema

Jesus se reis na Jerusalem word in Lukas beklemtoon. Omdat dit klaar­blyklik groot teologiese betekenis het, is heelwat studie oor die soge­naamde Reisberig gedoen. Dit word soos volg kortliks opgesom:

Die reis kan verstaan word as ’n proses van bewuswording. In die eerste plek word Jesus as mens al meer voor die voldonge feit gestel dat sy bediening op lyding en dood sal uitloop. Dit is onafwendbaar en dit is God se plan om mense daardeur te red. Jesus se volgelinge behoort ook daarvan oortuig te raak – dit word immers keer op keer uitgespel en gedemonstreer – maar hulle bly grootliks in gebreke om dit te snap. Ook die hoorders en lesers van die verhaal – dit is ons ook – word uitgedaag om God se plan te herken en daarby in te val.

Dit is een van die belangrike fasette van ons herdenking van Jesus se lyding in die Lydenstyd van die kerklike jaar. Ons moet Jesus se lyding herken en daarmee assosieer. Dit moet ook ons lewenswyse en lewensfilosofie word.

Die reisverhaal het ’n sikliese struktuur. ’n Mens kry dus heelwat temas wat herhaal; lering wat oor en oor gegee word. Dit op sigself ondersteun die proses van bewuswording. Dit is belangrik om met die herhaling rekening te hou wanneer ’n mens oor spesifieke temas wil nadink.

Die studies in hierdie boek sluit aan by die reismotief en fokus spesifiek op die Lydenstyd. Die laaste week handel oor Lukas 22, wat nie deel van die Reisberig is nie, en gaan oor die versoening wat Jesus deur sy lyding en sterwe bewerkstellig het. Die temas kan ook gebruik word vir oordenkings tydens die Groot Lydensweek.

3. Agtergrond oor die waarskynlike eerste gehoor

Ons gebruik as invalshoek Lukas se lering oor besittings wanneer ons oor die oorspronklike hoorders en lesers van die verhaal nadink. Ons weet die volgende:

Die sosio-ekonomiese konteks van die eerste hoorders is geweldig moeilik. Studies wys gewoonlik op endemiese armoede, dat daar min grondbesitters was en dat skuld-slawerny (dit is mense wat hulleself as gevolg van haglike omstandighede as slawe aan rykes verpand het) soms voorgekom het.

Lukas bepleit egter konsekwent die onderlinge deel van besittings. Dit is anders as die Matteusevangelie en die brief van Jakobus wat baie meer negatief teenoor besitters ingestel is. ’n “Gemengde” gehoor met ’n beduidende persentasie besitters word gewoonlik vir Lukas veronderstel. Lukas is in die verlede “die Evangelie vir die armes” genoem, maar dit sal meer korrek wees om Lukas die “Evangelie ter wille van die armes” te noem.

Lukas is ’n retoriese verhaal. Op verskillende maniere probeer die skrywer sy hoorders en lesers oorreed om hulleself by Jesus te skaar, om met Hom te assosieer en om sy voorbeeld van offervaardige diens­betoon en oorgawe te volg.

Geniet die reis saam met Lukas.


Lees verder

Plaas bestelling

Bestel telefonies – 021 864 8210/11

of e-pos bestel@bmedia.co.za


Ander boeke