Kookpunt!

[aesop_chapter title=”1. Inleiding en agtergrond” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

I

n 2000 het Chris Louw ’n artikel in Beeld geskryf wat ’n groot openbare debat ontketen het. Die titel van die artikel was “Boetman is die bliksem in”. Dit is geskryf in reaksie op Willem de Klerk se boek getiteld Afrikaners: Kroes, kras, kordaat. Louw se brief was ’n soort katarsis, en die inhoud en woede in sy brief was gerig aan die geslag Afrikaners voor hom, waarvan De Klerk deel was. Dit was juis De Klerk wat Louw jare vantevore op neerhalende wyse as “Boetman” aangespreek het.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”The level of anger and aggression is rising. This is an expression of deeper trouble from the past that has not been addressed. We have to be more cautious about how we deal with a society that is bleeding and breathing pain.” cite=” Graça Machel”]

Reeds voor Chris Louw se brief was daar mense in ons land wat kwaad was, en vandag, vyftien jaar later, is daar steeds heelwat mense wat woedend is. Mense is en was om verskeie redes ontnugter oor wat in Suid-Afrika se verlede gebeur het en hoe dit hanteer is. Vandag is daar egter nóg redes waarom mense kwaad is. Ons het dus diegene wat destyds kwaad was, én diegene wat destyds nie kwaad was nie, maar wel vandag.

Ek noem graag enkele voorbeelde van woedende Suid-Afrikaners en ’n woedende Suid-Afrika, asook opinies daaroor: In 2013 is Mido Macia, ’n Mosambiekse taxibestuurder, dood toe lede van die polisie hom aan hulle voertuig vasgebind het en 500 meter ver deur die strate gesleep het. Die rede? Hy het met hulle oor ’n verkeersoortreding gestry. Hy was 27 jaar oud. Tydens sy begrafnis het Graça Machel, die weduwee van oudpresident Nelson Mandela, gesê: “South Africa is an angry nation” en bygevoeg:

The level of anger and aggression is rising. This is an expression of deeper trouble from the past that has not been addressed. We have to be more cautious about how we deal with a society that is bleeding and breathing pain (Laing, 2013:1-3).

Koerantberigte soos “Ek is kwaad, baie kwaad na rooftog” (Nel, 2014:15) kan bykans daagliks in Suid-Afrikaanse dagblaaie gevind word. Vroeg in 2015 skryf Tim du Plessis in Rapport dat sy voorneme vir die jaar wat voorlê is om kwaad te bly.

In die Wes-Kaap het die musiekgroep Dookoom ’n lied vrygestel met die titel “Larney jou p**s”. Dit is geskryf deur die leiersanger, Isaac Mutant, en volgens hom het hy die lied geskryf in reaksie op die plaaswerkerstakings in De Doorns. Die groep ontken aanklagte dat hulle geweld aanstook en sê: “Daar is ’n verskil tussen jou woede uitdruk en die aanstigting van geweld. Kom ons fokus op waarom mense kwaad is” (Blignaut & Koen, 2014:3).

En in “Rage in the belly of motherhood”, ’n artikel wat gegrond is op navorsing onder arm vroue in semi-plattelandse gemeenskappe in die Wes-Kaap, skryf Kruger (2014:36) dat baie van die arm vroue in hierdie gemeenskappe intense woede beleef. Die vroue se woede skakel dikwels oor in aggressie, maar in sulke moeilike omstandighede het vroue min maniere waarop hulle hulle woede tot uiting kan bring.

Wie is die kwaadste?

Volgens Friedman (2014), direkteur van die Centre for the Study of Democracy, is Suid-Afrika se heel kwaadste mense die swart middelklas wat steeds rassisme in die werkplek beleef. Vir hierdie swart middelklas het ’n hoër inkomste nie meer geluk beteken nie en het kontak met wit mense nie goeie verhoudings tot gevolg gehad nie. Inteendeel: Kontak met wit mense beteken gewoon dat hulle in kontak kom met steeds aanwesige vooroordele jeens hulle wat intussen omgeskakel het in woede. Volgens Friedman is daar ook ’n verskil tussen die swart middelklas en die swart werkersklas. Die rede daarvoor is dat baie van die armer swart mense in ons land min of geen kontak het met wit mense nie en dat fabriekswerkers byvoorbeeld deesdae al hoe meer direk onder swart bestuurders en opsigters werk. Hier beteken meer kontak meer woede. Hy verwys ook na die lugverkoelde kantore van Johannesburg en Kaapstad, en sê dit is van die woedendste ruimtes wat alreeds kookpunt bereik het.

Spesifiek met betrekking tot ons apartheidsverlede is daar ook ’n hele paar kategorieë van ongelukkige mense. Hoe dikwels beleef ons nie byvoorbeeld hoe mense wat nasionale diensplig moes verrig, ongelukkig is daaroor nie. Eintlik is hulle nie ongelukkig nie; hulle is kwaad. Baie van hulle voel verraai oor die sogenaamde “goeie” redes waarvoor hulle hulle kosbare tyd opgeoffer het, afgesien van dit wat hulle boonop in die oorlog moes deurmaak. En vir wat? Hoekom? Dekades ná die Grensoorlog kom hierdie vrae nou op akute wyse terug, ook in literatuur daaroor. Dit is duidelik dat daar ’n hele boel ekstroepe, -korporaals en -luitenante is wat werklik kookpunt bereik het.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Arm mense is kwaad, ryk mense is kwaad. Bruin mense is kwaad, swart mense is kwaad en wit mense is kwaad. Christene, Moslems, Hindoes en ateïste is kwaad.”]

Nog ’n kategorie mense waarvan ek hier melding wil maak, is diegene wat as minderheidsgroepe voortdurend hulle seksuele identiteit teenoor meerderheidsgroepe moet verdedig. Dieselfde geld ten opsigte van die lang, opdraande pad in die stryd om die verkryging van geslagsgelykheid. Doen ons genoeg moeite om na mense se verhale in hierdie verband te luister? By baie van hierdie mense is daar dikwels veel meer as net pyn – daar is ook intense woede.

Arm mense is kwaad, ryk mense is kwaad. Bruin mense is kwaad, swart mense is kwaad en wit mense is kwaad. Christene, Moslems, Hindoes en ateïste is kwaad. Dat mense in Suid-Afrika kookpunt bereik het of ten minste vinnig op pad is daarheen, is ’n feit, en die voorbeelde is te veel om op te noem. Ek volstaan daarom vir eers met hierdie enkele voorbeelde en sal later in die boek nog voorbeelde byvoeg. Ek haal egter graag ’n gedig aan van Marileen Steyn, ’n student. Sy het dit vir my gestuur nadat ek vir haar klas vertel het dat ek besig is om ’n boek oor woede in ons land te skryf, en hulle vertel het wat die inhoud behels. Sy is 22 jaar oud. Hier volg haar gedig:

#blackface
we are the exhausted generation
fighting a war our fathers chose
our faces the offensive reminder
of what we didn’t do
carrying the cross in silence
to compensate
to move on
to avoid being brand marked
the ultimate sin
And yet
it is unavoidable
it is unrelenting
it is unforgiving
And as much as we are denied the right to say it
it is #unfair

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Statisties gesproke is 84,14% van die Suid-Afrikaanse bevolking Christene. Maar goeie Christenmense word mos nie sommer kwaad nie”]

Baie mense is vanweë ’n verskeidenheid redes ontgogel oor wat alles in ons land gebeur het en tans gebeur. Na my mening is mense dus óf steeds kwaad óf besig om kwaad te word as gevolg van alles wat hulle nou beleef. Soveel mense is kwaad dat dit nie voldoende is om te sê mense is besig om warm om die boordjie te raak nie, nee – hulle is besig om kookpunt te bereik. Omdat blatante ongeregtigheid, diskriminasie, korrupsie, armoede, swak leierskap en dienslewering endemies begin word, is woede nie ’n onbekende besoeker in die lyf van menige Suid-Afrikaner nie. Wanneer dit waarvoor ons lief is, bedreig word, ervaar ons dikwels ’n toename in hartklop, stygende bloeddruk, sweet wat op die voorkop uitslaan en ’n hand wat liggies begin bewe.

Statisties gesproke is 84,14% (Jackson, 2014:1) van die Suid-Afrikaanse bevolking Christene. Maar goeie Christenmense word mos nie sommer kwaad nie, of hoe? En indien dit wel gebeur, wys hulle nie hulle emosies nie en moet hulle dit onderdruk. Kom ons verken kortliks ons eie emosies en spesifiek ons belewenis van woede.

Hoe voel jy wanneer jy ’n dagblad oopslaan en jy lees van Anene Booysen wat op 2 Februarie 2013 in Bredasdorp in die Wes-Kaap die slagoffer van ’n bendeverkragting was waarna haar ingewande uitgeskeur is? Sy het nog ’n tydjie lank geleef, maar het later in die hospitaal beswyk. Twee jaar later, op 2 Februarie 2015, word die lyk van ’n vyfjarige kleutermeisie wat vermoor is digby haar ouerhuis gevind – op dieselfde dorp; op dieselfde datum. Inwoners wat in die insetsel op televisienuus daaroor gepraat het, het reguit gesê hulle is kwaad. Hoe voel jý oor daardie en ander soortgelyke voorvalle van geweld teen kinders? Of wat is die emosie wat jy beleef wanneer jy hoor van die soveelste plaasaanval waarin boere op ons platteland wreedaardig vermoor is?

Die koerante is deurtrek met beriggewing oor korrupsie en ander vorme van misdaad wat gedy in ons land. Wat voel jy wanneer ek die woord “Nkandla” noem? Dan praat ons nie eens van diegene wat nie eens die koerante wat ons lees, kan bekostig nie; mense wat werkloos is en krepeer van armoede en ellende. Ek wil my nie eens uitspreek oor die emosies wat hierdie brandarm mense moet ervaar nie. Ek weet wel wat myne sou wees as ek in hulle skoene was en gewéét het wat die omvang van die buitensporige salarisse is wat sommige mense in ons land verdien, terwyl ek in armoede gedompel is. Vir my is dit ’n goeie rede om soos Boetman van ouds die bliksem in te raak.

’n Ander kwessie is die xenofobiese (eintlik Afrofobiese!) aanvalle wat van tyd tot tyd voorkom. Waar pas dit binne hierdie groter prentjie in, en het dit nie ook te make met woede-uitbarstings nie? Daar is soveel emosies wat te doen het met ons geskiedenis van apartheid, die gevolge van regstellende aksie, onbevoegdheid van sommige mense in sekere poste en ongeregtighede wat plaasvind. Dan is daar iets anders wat ook baie belangrik is, naamlik die gevoel dat jy nie gehoor of selfs nie eens raakgesien word nie.

Maar wag, voordat ek myself sommer hier aan die begin van die boek reeds begin opwerk, kom ons wend ons eerder na die Bybel sodat ons mooi, vreedsame gedagtes kan koester. Die Bybel behoort ons tog te help om nie kookpunt te bereik nie. Eintlik moet die Bybel ons afkoel nog lank voordat ons kookpunt bereik, soos dit goeie gelowiges betaam. Ek slaan my Bybel dus voorlopig oop by ’n boek in die Ou Testament waarna ons in hoofstuk 5 weer sal terugkeer. Hopelik sal dit help om my te kalmeer en my woede te onderdruk sodat ek die saak suiwer en met my gesonde verstand kan benader.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Soos wat ’n mens deur die boek Rigters lees, tref jy ontelbare lyke, mishandelde mense, die gevolge van oorlog en ander wreedhede aan. Oë word uitgesteek, ’n vet koning word op sy toilet doodgesteek; daar is menseroof, moord en verkragting.”]

Anders as die verhaal in Genesis 22 waarin Abraham amper vir Isak offer, is daar in Rigters 11 ’n pa wat wél sy dogter offer. Soos wat ’n mens deur die boek Rigters lees, tref jy ontelbare lyke, mishandelde mense, die gevolge van oorlog en ander wreedhede aan. Oë word uitgesteek, ’n vet koning word op sy toilet doodgesteek; daar is menseroof, moord en verkragting. In een geval word ’n vrou aan ’n bendeverkragting onderwerp wat tot haar dood lei. Daarna vermink haar man haar liggaam deur dit in stukke op te sny. Rigters is vol rillers – hoofstuk na hoofstuk vloei die bloed en is dit maar net die vlak en skaal van geweld en wreedheid wat tussen die hoofstukke wissel. Dit is amper erger as die Afrikaanse dagblaaie se beriggewing! En dit wil gedoen wees.

Wat maak ’n mens nou met hierdie verhale? Hoe moet Bybellesers oor hierdie tekste dink? Is Bybelverhale nie veronderstel om ons te kalmeer en te troos nie? Ek is seker jy het ook gedink alle Bybelboeke moet jou as gelowige help om jou woede te onderdruk! ’n Mens vra jou af wat diegene wat in kerke preek of Bybelstudies lei met hierdie wrede verhale moet doen. Jy wonder selfs hoekom mense enigsins hierdie Bybelboek sal wil lees. Wat vertel hierdie verhale vir ons van God en is dit enigsins sinvol in vandag se tyd? Behoort ’n mens nie in die sogenaamde postmoderne tydsgees waarin ons leef aan God te dink as intiem en liefdevol nie? ’n God wat kwaad word, is tog ’n uitgediende gedagte? Tog is Rigters wél in die Bybel en is daar in beide die Ou en Nuwe Testament tekste wat van ’n woedende God en ’n woedende Jesus vertel. Is dit in orde dat hierdie verhale in Rigters van die mees ongebruikte tekste in die prediking is, of behoort hulle tog van tyd tot tyd gelees en in preke gebruik te word?

In hoofstuk 3 gaan ons spesifiek kyk na drie van die rillers wat in Rigters voorkom. Die Universiteit Stellenbosch het ’n gewilde leesroosterprojek. In die afgelope sestien jaar is daar slegs een van hierdie drie rillers opgeneem, en dan ook die makste een van die drie. Dit is miskien nie soseer dat die verhale vermy word nie, maar hulle is vir seker nie ’n eerste keuse indien daar wél van keusemoontlikhede sprake is nie. Die verhale laat die meeste van vandag se lesers erg ongemaklik. Of dalk is “ongemaklik” nie die regte woordkeuse nie. Indien jy noukeurig deur die verhale gaan, maak sommige karakters se optrede jou eintlik woedend. My poging om troos in die Bybelboek Rigters te kry en my emosies te kalmeer, het dalk die teenoorgestelde uitwerking. Tog is dit dalk juis waar die waarde van hierdie verhale vandag vir ons lê. Eerder as om my te kalmeer en te help stoom afblaas, kan hierdie ou verhale my help om op ’n egte wyse met dit wat ek beleef om te gaan en dit eerder met liggaam en verstand te aanvaar en aan te gryp. Klink dit dalk vir jou na ’n vreemde gedagte? Selfs na ’n gekettery? Byt net vas en hou aan lees.

Wanneer ’n mens so deur Rigters lees, kom daar onwillekeurig verskeie emosies by ’n mens op. Jy begin wonder oor dit wat jy voel, en dink na oor die emosies wat jy beleef. Jy wonder of ’n mens kwaad mag word wanneer jy hierdie en soortgelyke verhale lees. Jy wonder of dit nie onvanpas is om so te voel nie. Wat maak ’n mens dan met ’n teks soos Galasiërs 5:20 wat na woede as ’n praktyk van die sondige natuur verwys? Of kry ons darem ’n skuiwergat in Efesiërs 4:26 wat lui: “As julle kwaad word …”? Mag ’n Christen dan nou kwaad word of nie?

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Hoe moet ’n Christen binne ’n konteks van korrupsie, armoede, misdaad, armoede, uitbuiting en geweld reageer?”]

Die realiteit is: Christene word wel kwaad, maar dit is wat ons met die woede máák, wat die kwessie is. Menige Suid-Afrikaner het al geleer om met die ongemaklikheid saam te leef wat ons ervaar wanneer ons gekonfronteer word met die rillers in Rigters en ander tekste wat na woede verwys. Is dit egter gesond om maar net met hierdie soort emosies saam te leef of dit op te krop? Hoe moet ’n Christen binne ’n konteks van korrupsie, armoede, misdaad, armoede, uitbuiting en geweld reageer en watter emosies is aanvaarbaar? ’n Mens vra jouself af of jy kwaad mag word wanneer jy voorbeelde van mishandeling en ongeregtigheid sien. Jy wonder of jy om die “regte” redes kwaad mag word. Of behoort ’n Christen onmiddellik oor te gaan in ’n soort wangdraai-modus binne ’n konteks van geweld en onreg? Moet ’n Christen in alle omstandighede nie alleen onvoorwaardelik nie, maar sommer ook onmiddellik vergeef, sodat die vergifnis sommer kom nog voordat die misdryf heeltemal voltooi is? Maar dan vra ’n mens jouself weer of dit gesond is om enkele oomblikke nadat ’n wandaad soos verkragting of aanranding plaasgevind het, al aan te beweeg na vergifnis en versoening. Ek vermoed my eie onderrok aangaande hierdie kwessie begin al uithang – ek hoop in elk geval so.

Dit is met hierdie soort vrae waarmee daar in hierdie boek geworstel word. Dit is ook teen dié agtergrond dat ek openlik redeneer dat ons ons woede as ’n gawe van God moet aanvaar en aangryp. Dit is verder daarom dat ek wonder of Rigters dalk vir ons riglyne in hierdie verband kan bied. Daar is verskeie redes waarom ek Rigters kies, maar een van die vernaamstes is dat ek glo ons bevind onsself nie meer in ’n woestyntyd nie. Ons is ook nie op die oewers van die Jordaan nie. As ’n nasie is ons alreeds in die beloofde land en probeer ons om daar met mekaar saam te leef. Dit is ook só ’n soort tyd wat in Rigters beskryf word en waarin die leser telkens soos ’n terugkerende refrein hoor: ’n tyd toe elkeen gedoen het “wat reg is in sy eie oë” (Rig 21:25).

Die boek gaan egter nie net oor die paar gekose rillers in Rigters nie. Dit gaan eintlik oor die Suid-Afrikaanse landskap van woede wat in vandag se tyd op verskeie maniere tot uiting kom. Ons kyk daarna binne die groter prentjie van ’n uitgerekte oorgangstyd van apartheid na demokrasie waar ons ons voete binne ’n nuwe bestel probeer vind. Ons kyk saam na die huidige Suid-Afrikaanse konteks en spekuleer oor waar ons tans is met betrekking tot die voortgaande proses van versoening, of ten minste waar ons is in die oorgangstyd na demokrasie.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Wanneer ons as nasie op die rusbank van ons sielkundige gaan sit vir ’n diagnose oor ons vordering sedert 1994 – sal die diagnose positief wees of gaan ons ’n siektesertifikaat ontvang?”]

In die boek gaan ons ook die geldigheid van die sogenaamde prosesse en fases waardeur ons as nasie veronderstel is om te gaan, bespreek. Ons gaan kyk of ons ná twintig jaar se demokrasie darem al deur ’n fase of wat beweeg het, soos die handboeke voorskryf. Ek wonder: Wanneer ons as nasie op die rusbank van ons sielkundige gaan sit vir ’n diagnose oor ons vordering sedert 1994 – sal die diagnose positief wees of gaan ons ’n siektesertifikaat ontvang? Ons gaan verder ook spesifiek kyk na simboliese uitdrukkingsvorme of handelinge in die geskiedenis en vandag, en ondersoek hoe ons ons belewenisse op ’n sinvolle wyse simbolies gestalte kan gee – en dit sluit woede in.

Ten diepste is hierdie paar hoofstukke ’n soeke na hoe ons as Christene woede sinvol kan aanvaar en aangryp. Woede gedy op ’n verskeidenheid van wyses en ons kyk dus na alle vorme daarvan: woede by landsburgers en kerkgangers, woede in die Bybel en woede in die simboliese landskap van Suid-Afrika. Plek-plek word daar gereflekteer oor ’n woedende God en ’n woedende Jesus.

Ons staan geskok deur die verhale wat ons in Rigters aantref, maar is dit wérklik so vreemd en anders as wat vandag in ons eie samelewing gebeur? Daar heers immers ’n kultuur van geweld en korrupsie in die Suid-Afrika van vandag. Ja, daar gebeur ook baie goeie dinge, en ons jong liberale demokrasie is dalk nog in ’n geboorteproses, of dit ervaar dalk nog groeipyne. Hopelik is dit nie ’n sterwensproses nie! Maar dalk is ons nog by die huwelikseremonie wat tussen die uiteenlopende mense van die reënboognasie plaasvind. Of dalk is ons in die proses van inisiasie waarin jong mans hulle voorvel verloor op hulle pad na volwassewording. Ons kan selfs vra of ons ooit werklik in so ’n tipe oorgang is. In watter fase of proses ons ons ook al bevind – geboorte, volwassewording, huwelik of dood – al daardie fases is op hulle eie manier ’n skok vir die sisteem.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Om hierdie boek te lees gaan jou nie noodwendig troos nie, inteendeel – dit mag jou dalk eerder vies of vieser maak.”]

As gevolg hiervan is daar baie boeke wat poog om ons te troos. In die laaste paar jaar het daar byvoorbeeld heelwat boeke verskyn met titels soos “Verhale van hoop”. Hierdie boek se hoofdoel is egter nie om mense te troos nie. Ja, daar is vir seker ’n ongewenste hoeveelheid armoede, korrupsie, misdaad en geweld in ons samelewing teenwoordig wat saamhang met die oorgangstyd waarin ons ons bevind. Kookpunt! wil juis op ’n spesifieke wyse daaroor reflekteer. Hier is die doel nie om hoopvolle verhale op te teken nie. Eintlik word net mooi die teenoorgestelde gedoen, en word daar nie gepoog om ’n Teologie van Hoop te formuleer nie. Om hierdie boek te lees gaan jou nie noodwendig troos nie, inteendeel – dit mag jou dalk eerder vies of vieser maak. Maar hopelik gaan dit jou help om jou vieswees te aanvaar en aan te gryp.

’n Kernvraag waaraan ons ook aandag gee, is hoe Christene binne die gegewe konteks moet reageer. Dus: Wat maak ons met ons woede? Hierdie boek wil daardie vraag nog verder neem en vra of ons nie dalk binne ’n samelewing is waar ons ’n slag moet dink oor die tema van Christenskap en woede nie. Dit vra dan uiteindelik ook of ons dit nie eerder moet aanvaar en aangryp eerder as om dit te onderdruk nie.

Dalk klink dit alles vir jou ’n bietjie kras. Of dalk voel jy dit is teenstrydig met die Christelike godsdiens. Dalk dink jy ons moet eerder werk aan temas soos “Christenskap en vergifnis”, “Christenskap en versoening” of “Christenskap en restitusie”. Laasgenoemde opsies is inderdaad almal belangrik en het oor die laaste dekades al ruimskoots aandag geniet – en moet wel die meeste aandag kry. Dit is egter ook so dat die Christelike godsdiens en sy basiese openbaringsbron, die Bybel, drup van die bloed. Dit kom selfs in die geskiedenis van die kerk van Christus voor! Met hierdie boek verken ons dus die kombinasie van die wreedheid van ons tyd en die wreedheid van die Bybel eerder as om dit te ontken. Vandaar gaan ons op soek na roetemerkers – ’n soort eerste poging om ’n bespreking met die tema “Christenskap en woede” aan te moedig – spesifiek vir ons Suid-Afrikaanse situasie. Dit is onontbeerlik vir al die ander begrippe soos vergifnis, versoening en geregtigheid. As tema staan woede dus nie teenoor versoening nie, inteendeel.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”In ons konteks is daar veel meer nodig as om net aan ons woede uitdrukking te gee, dit is vir seker.”]

Deurgaans word ook gesuggereer dat hierdie verkenning van die tema “Christenskap en woede” slegs een klein stukkie binne die groter legkaart is, maar dat dit dalk juis tyd geword het dat hierdie deeltjie ook aandag kry. In ons konteks is daar veel meer nodig as om net aan ons woede uitdrukking te gee, dit is vir seker. Maar om wel aan ons woede uitdrukking te gee, is myns insiens ook een van die sake wat aandag moet kry tesame met al die ander aspekte. Daarom ook hierdie boek.

Kookpunt! wil Christene met ander woorde help om kwaad te word – sinvol kwaad te word – en selfs om hierdie woede te vier en daaroor te praat, preek, sing of debatteer. Dit wil Christene aanmoedig om op ’n spesifieke wyse kwaad te word en om emosies wat gewoonlik afgekeur word, eerder ten volle aan te gryp en te aanvaar. In hierdie lig is teologiese nadenke oor woede eintlik ’n integrale deel van teologiese nadenke oor vergifnis, geregtigheid, versoening en restitusie.

Die boek handhaaf deurgaans ’n klem op die Praktiese Teologie. Dit beteken daar word nie alleen na die gekose tekste in die Bybel gekyk nie, maar ook na die huidige konteks in Suid-Afrika en spesifiek ook na godsdienstige handelinge. Daar sal voortdurend beweeg word tussen die huidige konteks en ander bronne om lig te werp op die onderwerp “Christenskap en woede”. Ons kyk na wat skrywers te sê het, na wat enkele Bybeltekste sê en na die werk van ’n paar teoloë. Ons kyk ook na wat mense alreeds besig is om op ’n simboliese wyse te doen om sodoende hulle woede tot uitdrukking te bring.

Die boek is vir enigeen wat in die tema geïnteresseerd is, of jy nou woede beleef of nie. Ek hoop enersyds dit kan diegene wat kwaad is, help om sinvol om te gaan met dit wat hulle beleef. Andersyds hoop ek dit sal mense wat nie kwaad is nie, help om diegene wat wél woedend is te verstaan en te verduur. Hopelik kan van die materiaal lesers ook help om hulle belewenisse op ’n simboliese wyse tot uitdrukking te bring. Dit kan gedoen word deur die ontwerp van byeenkomste en rituele wat op ’n sinvolle wyse spreek tot ’n konteks van ongeregtigheid, wreedheid, armoede, uitbuiting, korrupsie, diskriminasie en misdaad.

Die tema wat hier aan bod kom, is nie heeltemal nuut nie. Sommige lesers sal dadelik iets herken van boeke wat ’n paar dekades gelede in Suid-Afrika én oorsee verskyn het. Tydens die apartheidsjare was daar menige teoloog in Suid-Afrika wat gereageer het teen ’n onderdrukkende bestel om mense te help om dit wat hulle beleef, te verwoord – ook vanuit ’n meer liturgiese invalshoek. Ons kan dink aan die gebedeboek Cry justice! van ’n teoloog soos John de Gruchy, Ukubuyisana van Mark Hay asook werke van Charles Villa-Vicencio. Voorbeelde van oorsese teoloë se werke is Ted Jennings, jr se The liturgy of liberation en Bill Kellerman se Seasons of faith and conscience. Dit is maar enkele werke van teoloë wat in daardie tyd spesifiek klem gelê het op die Praktiese Teologie en gemik was op die viering van die belewenis van ongeregtigheid.

Daar is verder werke van ’n meer historiese aard, soos Chris Loff se navorsing oor die negatiewe rol van die liturgie. Dit fokus spesifiek op die NG Kerk se sinodebesluit om die sakrament van die nagmaal aan mense van verskillende rasse in verskillende geboue in Suid-Afrika te bedien. Die skrywer Antjie Krog het op ’n eiesoortige en besondere wyse ook bydraes gemaak, veral met haar werk oor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) in die laat jare negentig van die vorige eeu. ’n Verskeidenheid meesters- en doktorsgrade in teologie het ook oor hierdie onderwerp gehandel, en in hierdie boek word daar na van hierdie bronne verwys. Dit sal sommige lesers herinner aan ’n sekere tyd in die Suid-Afrikaanse verlede. Party lesers sal ’n tema soos dié van “Christenskap en woede” juis met daardie era assosieer. Dalk is dit juis nou tyd om daardie tema weer onder die loep te neem, maar dan nie binne die konteks van Suid-Afrika se laaste drie of vier dekades van die twintigste eeu nie. Die konteks waarbinne ons dit bespreek, is die een-en-twintigste eeu, net meer as twee dekades ná die eerste demokratiese verkiesing.

Met hierdie agtergrond in gedagte het die boek die volgende opbou wat, soos reeds genoem, vir sommige lesers herkenbaar sal wees as ’n tipiese Prakties Teologiese benadering, eerder as byvoorbeeld net ’n dogmatiese of Bybelwetenskaplike besinning. Die klem word dus op beide handelinge en die konteks geplaas. Die ander rede hoekom ek dit Prakties Teologies noem, is omdat ek in die eerste plek kyk na rituele, liturgie en prediking wat tradisioneel in Suid-Afrika binne die veld van die Praktiese Teologie behandel word. Verder word daar voortdurend na die wisselwerking van beide die konteks en die praktyk van godsdiens gekyk.

In hoofstuk 1 kyk ons waar ons tans staan ten opsigte van temas soos versoening en geregtigheid. In hoofstuk 2 word ’n soort kontekstuele analise gedoen rakende die hedendaagse Suid-Afrikaanse konteks, met behulp van ’n verkenning van veral (my eie) verhale. Dit word in hoofstuk 3 opgevolg deur ’n verkenning van prosesse wat iets van ’n oorgangstyd wil verklaar. Ons vra dan ook spesifieke vrae oor die volgorde van die fases, en bespreek die plek en rol van woede daarin. Daar word baie krities omgegaan met hierdie skemas en uiteindelik vra ons dan of hierdie goed bedoelde skemas nie later boeie kan word nie. In hoofstuk 4 word die sogenaamde rituele landskap van woede in Suid-Afrika beskrywend verken en word daar sodoende aangetoon hoe mense tans op soek is na simboliese uitdrukkingsvorme vir dit wat hulle beleef. Hoofstuk 5 kyk na drie rillers uit Rigters. Hierdie verkenning word in die vorm van interpretasies van die drie gekose tekste vir vandag aangebied. Elkeen word vergesel van gebede en voorbeelde van hoe kunstenaars hierdie tekste of genres al geïnterpreteer het. Ten slotte word enkele samevattende riglyne in hoofstuk 6 geformuleer vir die tema “Christenskap en woede”. Daar word in die besonder na die gedagte gekyk dat woede ’n belangrike diagnostiese stuk gereedskap is. Wanneer ons dus vir ’n oomblik terugstaan en ons afvra hoekom ons kwaad is, sê dit geweldig baie oor die dinge waarvoor ons lief is en wat ons voel bedreig word. ’n Bronnelys word ingesluit sodat dit as ’n verdere bron kan dien vir diegene wat dieper wil delf.

Heel dikwels is die grootste motivering vir besluitneming “ter wille van rus en vrede”, wat ’n mens baie goed kan verstaan – ook in gemeentes. Tog kom daar tye wanneer die volgende gebed van Desmond Tutu meer gepas is as ’n gebed met die tema “ter wille van rus en vrede”. Hy het dit op ’n gebed van Francis Drake gegrond en dit lui as volg:

Disturb us, O Lord
when we are too well-pleased with ourselves
when our dreams have come true because we dreamed too little,
because we sailed too close to the shore.

Disturb us, O Lord
when with the abundance of the things we possess,
we have lost our thirst for the water of life
when, having fallen in love with time,
we have ceased to dream of eternity
and in our efforts to build a new earth,
we have allowed our vision of Heaven to grow dim.
Stir us, O Lord
to dare more boldly, to venture into wider seas
where storms show Thy mastery,
where losing sight of land, we shall find the stars.
In the name of him who pushed back the horizons of our hopes
and invited the brave to follow.
Amen

Tydens my nadenke oor hierdie onderwerp en die skryf van die manuskrip het ’n hele paar mense my aangemoedig en ook my gedagtes gestimuleer met gesprekke oor die onderwerp. Ek wil hier dankie sê vir al daardie vriende en kollegas – Hennie Pieterse (ook vir die voorwoord), Wilhelm Jordaan, Julian Müller, André van Niekerk (ook vir die uitwysing van bykomende bronne), Maake Masango en Cas Vos. Ek bedank ook in die besonder vir Andries Visagie en Marthinus Beukes wat my aandag gevestig het op van die kortverhale en gedigte waarna ek in hierdie boek verwys, en dan natuurlik vir my vrou Clara, met haar goeie insig en kritiese vrae, en vir Drienie Wepener vir taalkundige redigering.

Daar was vele mense wat my gehelp het om my gedagtes te vorm. Ek het byvoorbeeld in Oktober 2014 ’n referaat oor hierdie onderwerp gelewer by die Universiteit Pretoria se Fakulteit Teologie. Die gehoor het goeie, insiggewende vrae gevra en bydraes gelewer. Ek het die tema ook in ons plaaslike gemeente aangeroer en ook daar het verskeie mense belangrike vrae gevra en opmerkings gemaak. Vir wat in hierdie boek geskryf staan, aanvaar ek egter verantwoordelikheid.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Dit is my wens dat woede as sodanig aanvaar en aangegryp sal word, sodat die kerk en geloofsgemeenskappe veilige plekke sal word waar mense van tyd tot tyd ‘bliksem’ kan sê en nie sleg hoef te voel oor die feit dat hulle kookpunt bereik nie.”]

Daar sal sekerlik lesers wees wat wonder waarom ek as wit man in my vroeë veertigs, wat nie aan die Boetman-generasie behoort nie, die behoefte het om ’n boek oor woede te skryf. Ek vertel iets meer daaroor in die volgende hoofstuk. Dit sal dan hopelik ook duidelik word dat ek vir seker nie negatief is oor die plek waar ons in Suid-Afrika is ten opsigte van ’n oorgangstyd nie – inteendeel. Ek is egter wel oortuig dat ons nóg beter kan vaar indien die tema “Christenskap en woede” beter aandag geniet. Dit is my hoop dat Christene en kerke in Suid-Afrika nie net die gevaarlike kant van woede sal raaksien nie, maar dat woede as ’n Goddelike gawe waardeer sal word. Verder is dit my wens dat dit as sodanig aanvaar en aangegryp sal word, sodat die kerk en geloofsgemeenskappe veilige plekke sal word waar mense van tyd tot tyd ‘bliksem’ kan sê en nie sleg hoef te voel oor die feit dat hulle kookpunt bereik nie. Om kwaad te raak wanneer dinge nie reg is nie, is nie verkeerd nie, nee, dit wys juis dat ons nog omgee.

[aesop_chapter title=”2. ’n Lament vir liminaliteit” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

 

Waar bevind die inwoners van Suid-Afrika hulleself tans ten opsigte van die oorgangstyd van apartheid na demokrasie? Dit sal lekker wees om ’n netjiese, pasklaar antwoord op daardie vraag te kry, ek weet. Ek glo egter dat ons vele mense ’n rat voor die oë sou draai indien ons dit sou doen. Ons is nie almal so nie (dankie, Jeanne Goosen) en ons is ook nie almal op presies dieselfde plek nie. Elke mens en elke geloofsgemeenskap in Suid-Afrika het hulle eie unieke storie en ek wil graag ’n stukkie van my eie storie hier vertel. Dit is ’n poging om iets van ons huidige situasie en die kompleksiteit daarvan vir lesers oop te vlek sodat hulle self ook op hulle eie verhale kan reflekteer.

Een van die belangrikste vrae wat ’n mens in Praktiese Teologie vra, is bloot: “Wat gaan aan?” (Osmer, 2008). Ek gaan hierdie vraag telkens in die boek vra en ook probeer om dit ten dele te beantwoord – uiteraard deur die lens waarmee ek na die wêreld kyk. In hierdie eerste rondte wil ek die vraag oor waar ons tans in Suid-Afrika is met betrekking tot die oorgang na ’n demokratiese bestel verken. En ek hou my by my lees deur van veral twee bronne gebruik te maak: Eerstens my eie belewenisse soos wat ek oor die laaste meer as twintig jaar aan eredienste en ander rituele deelgeneem het – met ander woorde, (godsdienstige) praktyke. Tweedens neem ek die digter en joernalis Antjie Krog en enkele van haar boeke uit hierdie periode saam as metgesel om my op die smalle weg te hou.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”As begrip het liminaliteit ’n baie sterk invloed op die werk van Teoloë wat ’n bepaalde invloed uitoefen op die praktyk.”]

Wat ek basies in hierdie hoofstuk wil doen, is om te vra of die konsep liminaliteit werklik steeds die beste konsep is om te verstaan wat in ons land en in ons geloofsgemeenskappe aangaan en wat ons beleef. Ek ondersoek ook of liminaliteit die beste leidraad is vir hoe ons vandag in Suid-Afrika kan optree. As begrip het liminaliteit ’n baie sterk invloed op die werk van (Praktiese) Teoloë wat ’n bepaalde invloed uitoefen op die praktyk. Dikwels word liminaliteit dan ook gebruik om voor te skryf of daar tans opgetree behoort te word, en indien wel, hoe dit gedoen moet word.

Alle lesers is dalk nie vertroud met die betekenis van die begrip liminaliteit nie. Dit is ’n konsep wat kom uit die werk van die antropoloog Victor Turner en wat voortbou op die vroeëre werk van die antropoloog Arnold van Gennep (sien ook Wepener, 2014:27-29). Albei het navorsing gedoen oor oorgangsrituele soos inisiasie-rituele, en verskillende fases daarin geïdentifiseer. Dit kom basies neer op: 1. Die fase van skeiding of losmaking; 2. die fase van liminaliteit (oftewel die tusseninfase) en 3. herintegrasie of herinkorporasie waardeur die oorgang voltooi word. Xhosa-seuns word byvoorbeeld geskei of losgemaak van hulle bestaande sosiale strukture en vir ’n tyd veld toe gestuur. Dit is die eerste fase van losmaking. Hulle vertoef dan vir ’n voorgeskrewe tyd in die veld as sogenaamde amaKweta. Daar leer hulle om te oorleef en word hulle deur die ouer mans geleer wat die tweede fase van liminaliteit behels. Gedurende hierdie tweede fase is hulle nie meer seuns nie, maar ook nog nie mans nie. Hulle is tussenin – vandaar die term amaKweta. In die derde fase kom hulle terug, word hulle besny en dan word hulle geherintegreer in die samelewing waarvandaan hulle kom. Nou is hulle nie meer seuns nie, en ook nie iets tussenin nie. Nou is hulle mans. Vir die oomblik fokus ek op die tweede fase van liminaliteit – die tussenintyd.

Die woord liminaliteit kom van die Latynse woord limen wat drumpel beteken en dui soos verduidelik op die tussenintyd in ’n oorgangsritueel. Mense wat in ’n fase van liminaliteit verkeer, is in Turner se taal “betwixt and between, neither here nor there”. Binne die groter prentjie van ’n oorgang binne ’n samelewing en spesifiek in Suid-Afrika, was en is hierdie konsep dus handig om mense te help om hulle eie tusseninstaat of -gevoel van disoriëntasie te verstaan. Ons is in ’n drumpelfase waarin ons nie meer in ’n apartheidsbestel leef nie, maar ons is ook nog nie ten volle in ’n nuwe bedeling geïnisieer nie.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Waar is ons? In Egipte, Sinai of dalk in Kanaän?”]

Verskeie teoloë het oor die laaste dekades die waarde van hierdie sogenaamde liminale of drempeltyd uitgewys – spesifiek met betrekking tot geloofsgemeenskappe. Dit het vir baie mense goeie insig gebied in die situasie waarin hulle hulleself bevind, en hulle gehelp om dit te sien as ’n potensieel kreatiewe tyd waarin daar baie geleer kan word. Die waarde hiervan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die vraag wat ek egter hier wil verken, is of hierdie konsep wat in 1994 en selfs nog in 2004 uiters waardevol was in Suid-Afrika, se lof steeds besing moet word in 2015, 2016, 2017 en daarná. Ek wil dus vra of dit nie tyd is om aan te beweeg nie. Staan ons werklik steeds net op die drumpel, of is dit akademici en hulle gebruik van die konsep wat ons op die drumpel hou? Waar is ons? In Egipte, Sinai of dalk in Kanaän?

Dit is geensins maklike vrae om te beantwoord nie en is ook nie werklik toetsbaar nie, maar desnieteenstaande is dit belangrike vrae waaroor ’n mens moet nadink sodat jy sinvol daarop kan reageer binne jou gegewe konteks. Myns insiens is dit presies hier waar ’n boek soos dié moet begin deur opnuut te vra waar ons tans staan ten opsigte van prosesse soos versoening en transformasie in Suid-Afrika. Terselfdertyd moet ek my eie plek daarbinne verken. Ja, liminaliteit het mettertyd baie positiewe konnotasies verkry as ’n leertyd en ’n kreatiewe tyd, maar is dit werklik nog die beste wyse om oor onsself te dink?

Op hierdie manier sal daar ook aangetoon word dat almal nie in een skema ingedwing kan word nie. Dus: Is daar nie dalk nou ook (weer) ruimte vir (onder meer) woede nie? En indien wel, dui dit nie dalk daarop dat ons besig is om liminaliteit agter te laat nie? Is so ’n fase-model werklik ooit houdbaar as ’n oorkoepelende verklaring vir individue en groepe soos geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika? Soos wat ek in hierdie hoofstuk stukkies van my eie verhaal vertel, sal lesers hopelik hulle eie verhale en verhouding tot die konsep liminaliteit oproep. My eie storie is maar net een voorbeeld en ons is almal tans op verskillende plekke ten opsigte van hierdie onderwerp.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Liminaliteit is nie meer die antwoord vir vandag nie, al is sommige skrywers steeds besig om die lof daarvan vir ons konteks te besing.”]

In sekere opsigte is die teoloë en akademici wat hieroor skryf, soos ek, die mitemakers. Indien ons vandag steeds sê dat ons in ’n liminale fase is en dat gepaste rituele daarvoor nodig is, hoe weet ons dit? Soms lees akademici interessante stof raak en skryf dan daaroor omdat hulle vermoed dit kan van hulp wees. Liminaliteit is ’n voorbeeld daarvan. Dit is goed dat dit gebeur, want dit help ons inderdaad baie. Mettertyd raak sulke konsepte egter onveranderlike mites en glo almal dat dit vir altyd die finale antwoord is, sonder om krities daarmee om te gaan. Ek dink self liminaliteit was in ’n stadium die antwoord. Ek is dankbaar vir die goeie akademici wat dit in die vroeë jare negentig in die teologiese diskoers ingebring het. Ek glo egter dit is nie meer die antwoord vir vandag nie, al is sommige skrywers steeds besig om die lof van liminaliteit vir ons konteks te besing. Dit is presies wat ek in hierdie hoofstuk gaan probeer argumenteer en illustreer. Ek gaan jag maak op ’n mite en probeer om dit ’n kopskoot te gee, alhoewel ek dalk in die proses net ’n nuwe mite gaan skep.

Ronald Grimes het reeds in 1995 opgemerk: “This generation’s intellectual task seems to be that of getting beyond Victor Turner.” Dit was ongeveer dieselfde tyd wat Turner se werk deur teoloë in Suid-Afrika ontdek is. Hulle het die belangrikheid van konsepte soos societas, communitas en liminaliteit vir ons land en geloofsgemeenskappe raakgesien – binne die konteks van die vinnig veranderende Suid-Afrikaanse konteks van destyds. In hierdie verband kyk ons in hoofstuk 3 na Turner se idee van die Sosiale Drama. Sedertdien het verskeie praktiese teoloë, veral in Gemeentestudies, maar ook in Liturgiewetenskap, die waarde van die konsep liminaliteit vir geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika verken. Ek sal probeer om ook op die spoor te gaan van die gebruik van hierdie konsep in die Suid-Afrikaanse Teologie oor die laaste twee dekades. Om hierdie punt te illustreer, sal ek deurgaans rituele voorbeelde gebruik wat op my ervaringswaarheid (Deist, 1997) gegrond is. Soos reeds genoem, neem ek Antjie Krog saam as reisgenoot wanneer ek na my eie verhaal oor die afgelope tweede dekades kyk. Hier is my storie.


[aesop_chapter title=”Lees verder” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

 

Sagteband beskikbaar in
Engels en Afrikaans

Bestel telefonies – 021 864 8210/11

of e-pos [email protected]


Inhoudsopgawe

–  Voorwoord deur prof Hennie Pieterse
1. Inleiding en agtergrond
2. ’n Lament vir liminaliteit
3. ’n Begrafnis vir die sterwensproses en ander insiggewende mites
4. Die liturgie van ’n staking
5. Rillers uit Rigters: enkele riglyne oor hoe om jou te strip
6. Kookpunt! – om jou woede te beliggaam
–  Ten Slotte