Hoofstukke
Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse kerkjeug

Skokkend Positief

Voorwoord

E

k hoor nou die dag die skertsende verhaal van ’n Duitse statistikus wat saam met ’n vriend deur die platteland ry. Die vriend merk dat dit lyk of die skape wat in ’n veld aan hulle linkerkant teen die groen hange wei, pas geskeer is. Die Duitse wetenskaplike reageer kortliks met sy korreksie: “Dit lyk van hierdie kant af so!” Per implikasie bevestig hy die moontlikheid dat die ander kant van die skape dalk nie geskeer is nie. ’n Mens kan net sê wat jy op ’n gegewe oomblik sien. En dan kan jy ook net sê wát jy sien. Niks minder nie. Niks meer nie. Dit is presies wat ons in hierdie boek doen.

Die projek was die gevolg van ’n opdrag wat die NG Kerk se Algemene Sinode in 2011 gegee het, naamlik dat navorsing oor jongmense in die kerk gedoen moet word.

Hierdie boek is ’n gesprek wat voortgevloei het uit ’n wonderlike projek – Kerk­like Jeug en Geloof in Suid-Afrika (’n multikerklike navorsingsprojek). Dié projek het behels dat uiteindelik amper 300 jongmense (16 tot 35 jaar) 481 vrae moes beantwoord. Dit het veral gefokus op profiel (wie is jy?) en persepsie (wat dink jy?). Die data wat hieruit onttrek is, was deeglik en om­vang­ryk. Ons het gehoop vir meer respondente, maar hierdie was genoeg vir ons doeleindes; hulle was oor die hele land versprei en kom uit meer as 82 gemeentes in 3 denominasies. Die projek was die gevolg van ’n opdrag wat die NG Kerk se Algemene Sinode in 2011 gegee het, naamlik dat navorsing oor jongmense in die kerk gedoen moet word. Die kerk wou net weer ’n slag weet hoe ons jongmense lyk! Dit het te lanklaas gebeur dat die kerk dié vraag gevra het. Ons het amper alle kerke in die land op hierdie reis saamgenooi. Party het van die begin af nie kans gesien nie; ander het namate die enorme logistieke implikasies duidelik geword het, besluit hulle wil nie dadelik voortgaan nie. Hopelik sal hulle in die toekoms. Uit­eindelik het ons met die Afrikaanse susterkerke geëindig (die RCA was in entoesiasme saam met ons tot die einde, maar ongelukkig was hulle responskoers te laag). Dit was voorwaar ’n besonderse belewenis om as kerke saam te werk – sonder konflik. Ons het ten minste een saak gemeen: ons jeug.

Die departement van Praktiese Teologie aan die Universiteit Pretoria is die akademiese huis van die projek. Hulle het ook saam met die deelnemende kerke finansieel tot die projek bygedra. Dit het beteken dat die data aan ons behoort. Ons is dankbaar vir hulle samewerking en ondersteuning.

Ons kan nie langer tevrede wees met navorsing wat in internasionale kontekste gedoen word nie.

Dit is my opregte oortuiging dat die inligting wat hierdie studie op die tafel plaas ons reeds baie help. As daar net een boodskap uit hierdie boek uitgaan, sal dit ook voldoende wees; dit is die boodskap dat ons nie langer tevrede kan wees met navorsing wat in internasionale kontekste gedoen word nie. Een ding is duidelik uit hierdie studie: Ons konteks is nie dieselfde as dié van oorsee nie. In jeugbediening het ons te lank ander kontekste aangehaal asof dit min of meer op ons van toepassing is. Dit is nie altyd so nie. Natuurlik sal ons aan ons grootste kritici moet toegee dat ons nie in hierdie boek van “alle” jongmense in ons land kan praat nie. Ons praat nie eers van “alle” jongmense in die Afrikaanse kerke nie. Ons het darem lankal reeds wegbeweeg van ’n gemoderniseerde en universele toepassing van statistiek. Ons kan net sê wat hierdie respondente sê. Wat hulle sê, dui vir ons ’n rigting aan. Of dit die rigting van “almal” is, kan ons ongelukkig nie bevestig nie. As ons kritici ons daaroor aanvat, moet hulle ten minste erken dat hierdie ’n eerste stap is om plaaslike, wetenskaplike, verant­woord­bare navorsing te doen. Lees gerus in hoofstuk 1 hoe deeglik dit gedoen is. Ek daag jou uit om krities om te gaan met ons navorsing. As jy steeds krities staan, nooi ons jou om jou eie wetenskaplike navorsing te doen – maar doen dit plaaslik. Jy sal ons almal help!

Dit is betrokke, aktiewe jongmense in die kerk hierdie. Hoekom het julle dan anders verwag? Neels Jackson

Die titel van die boek sal waarskynlik genoeg skokgolwe veroorsaak. Nadat die eerste woord oor die resultate die publiek se ore bereik het, het dit reeds gebeur. Mense was verbaas, néé, onsteld dat daar jongmense kan wees wat oorwegend (nie ten volle nie) positief is oor die kerk. Hoe kan dit dan wees? Alles oor die kerk is mos deesdae negatief. Die oomblik as iets positief is dan betwyfel ons die resultaat. Dit is juis om hierdie rede dat ons almal (ál 29 skrywers) dieselfde aanvanklike reaksie gehad het. Ons het veel meer negatiwi­teit verwag. Daarom was ons verbaas, verras en selfs geskok oor die groot positiwiteit onder ons jongmense. Gevolglik het die keuse vir die titel ál meer toepaslik begin voel: Skokkend positief. Ons vriendelike uitgewer het saam met ons volstaan by hierdie titel. Neels Jackson (die redakteur van Kerkbode en ’n oud­joernalis by Beeld) vra my by ’n perskonferensie: “Dit is betrokke, aktiewe jongmense in die kerk hierdie. Hoekom het julle dan anders verwag?” Ek moes dink oor dié vraag. Ons is al so gekondisioneer dat almal en alles in hierdie land altyd negatief is dat ons dit van onsself (die kerk) ook verwag. Ons is amper gewoond daaraan om gereed te staan om maar net nog ’n keer “geslaan” te word. Ons keer al instinktief! Ons is voos! En ironies genoeg moes ons weer keer, want nou word ons “geslaan” omdat dit positief is! Ons lei almal aan die siekte van negatiwiteit; daarom is ons inderdaad geskok oor iets wat die teen­deel bewys.

Beteken dit dat die kerk maar rustig agteroor kan sit? Beteken die titel dat niks aandag moet geniet nie? Nee! Lees gerus die boek en jy sal baie hê om oor bekommerd te wees, of dalk maak dit jou rustiger … Maar daar is baie om van kennis te neem. En baie om te verander.

Die hoofskrywers van hierdie boek het die navorsingsverslag van Business Enterprises by die Universiteit Pretoria (2015) ontvang. Hulle het die deeglike werk van twee besonderse statistici (prof Chris Smit en dr Mike van der Linde) geneem en daaroor geskryf. Die hoofstukke volg die temas wat die studie gedek het. Die skrywers probeer in elke hoofstuk om so verantwoordelik moontlik oor die studie se uitslag te rapporteer. (Persentasies word orals gevolg deur die getal respondente wat die persentasie verteenwoordig.) Daarna begin hulle (op hulle eie risiko) tendense en waarnemings raaksien en interpreteer wat nie deur die amptelike navorsingsverslag se outeurs gedoen is nie. Die hoofskrywers bring die data in gesprek met ander navorsing en kontekste. Uiteindelik probeer hulle voorstelle vir die kerk se toekomstige jeugbediening maak. ’n Goeie praktiese teoloog sal dadelik Osmer (2008) se proses hierin herken. Sy proses bestaan uit vier bewegings of vrae: Wat gaan aan? Hoekom gebeur dit? Wat behoort te gebeur? Wat nou gemaak?

Ons boek hou egter nie hierby op nie. Ons probeer meer doen as net die resultate deurgee. Ons probeer ’n gesprek aan die gang sit waarvan hierdie boek hopelik net die begin is. Jy moet ons help om dit voort te sit! In elke hoofstuk kry nóg twee kollegas ’n kans om hulle stem by te voeg. ’n Eerste leser (’n ander spesialis in jeugbediening of ’n akademikus) lewer kommentaar op die hoof­skrywer se werk. Daarna het ons ’n jong predikant wat in jeugbediening spesialiseer, gevra om as tweede leser ’n laaste woord oor veral die praktyk te spreek. Ons hoop dit wys ons erns met die jeugbediening in die kerk. Ons wil nie net die data iewers op ’n rak bêre nie; ons wil graag die kerk help om uiteindelik ons jongmense beter te verstaan en te bedien.

Die VSA se bekende projek “The National Study of Youth and Religion” het van 2003 tot 2008 plaasgevind. Die studie se populasiefokus was alle jongmense (van 13 tot 17 jaar) in die VSA vanuit alle gelowe. Daar het 3 290 Engels- en Spaanssprekende respondente aan die studie deelgeneem. Hulle het oor die genoemde tydperk drie keer telefonies met die respondente in verbinding getree. Hulle het gekies om ’n indiepte-beskrywing van relatief min respondente (neem die potensiële grootte van dié spesifieke groep in die hele VSA in ag) te maak. Hierdie studie is beduidend aangehaal en gebruik.

Die vraelys het meer as ’n uur geneem om te voltooi en lewer ’n deeg­like indiepte-beskrywing van hierdie respondente se lewe.

Ons studie het dieselfde filosofie toegepas. Ons kon 3 000 jongmense ’n vinnige vraelys by ’n groot byeenkoms laat voltooi het of deur ’n oop internet­opname. Maar dit sou ons nie met wetenskaplike en bruikbare resultate gelaat het nie. Ons het deur ’n deeglike steekproefproses ’n wetenskaplike benadering gekies wat meer werk verg, maar wat minder deelnemende respondente nodig het. Die vraelys het meer as ’n uur geneem om te voltooi en lewer ’n deeg­like indiepte-beskrywing van hierdie respondente se lewe. Die opname en deelname waarborg die deelnemers se anonimiteit. Die deelnemers kom van verskillende plekke en gemeentes, en is totaal onbekend aan ons.

Daarom begin ek hierdie boek deur vir hierdie onbekende vrywilligers wat gewaag het om hulle lewe en opinies op die tafel te sit, dankie te sê. Sonder julle toewyding en bereidwilligheid sou ons nie hierdie projek kon voltooi nie. Ons hoop julle weet ons probeer na die beste van ons vermoë om julle verhale te vertel en julle bydraes te eer. Die kerk is julle ewig dankbaar.

Dr Zander van der Westhuizen
Projekleier: Kerklike Jeug en Geloof in Suid-Afrika


Bestel Skokkend Positief

Skokkend Positief  is tydens die 2015 Algemene Sinode van die NG Kerk bekendgestel.

Bestel Skokkend Positief 


Ander boeke