God van die woestyn

[aesop_chapter title=”Inhoud” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

1. God en woestyn
2. Ontmoet Hagar in Genesis 16
3. Hagar vra om gesien te word
–  Woestyn as landskap van keuse
4.
Ontmoet Hagar in Genesis 21
5. Pyn en hartseer vra om gehoor en gevoel te word
–  Woestyn as ingesteldheid
6. Foute vra om geëien te word
–  Woestyn as plek van God
7. Verskille vra om omhels te word
–  Woestyn as plek van die siel
8. Woede vra om ’n stem
–  Woestyn as plek van vryheid
9. Misbruik vra om gekonfronteer te word
–  Woestyn as nuwe lewe
10. Vryheid vra om gekies te word
11. Wat dan van die kinders?


[aesop_chapter title=”1. God en woestyn” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

D

ie woestyn is ’n sterk tema in die Bybelse en later Christelike tradisie. Die woord roep baie assosiasies op. Dit is ’n plek van op pad wees, soos in die tradisies van die uittog uit Egipte. Dit is ook ’n plek van swaarkry, alleenwees en versoeking. In die Bybel is dit letterlik ʼn geografiese ruimte. In die Christelike tradisie word dit egter ook ’n simboliese ruimte. Dit is ’n plek van wegvlug, maar ook van ontmoeting.

In die Christelike tradisie is woestyntye tye van droogheid en verlies; tye waarin die teenwoordigheid van God betwyfel en ontken word. Paradoksaal is woestyntye ook die tyd van Godsontmoetings, waar jy gestroop word van wanpersepsies en waar jy God en jouself herontdek. Daarom verwys Alan Jones in sy boek Soul making na die woestyn as “a place of silence, waiting and temptation”, maar ook as “a place of revelation, conversion and transformation”. Die letterlike woestyn is dus ook deur die eeue die plek waarheen mense gaan as hulle God wil ontmoet, as hulle ruimtes van afsondering en stilte vir gebed en transformasie wil skep. In die woestyn word jy ten diepste gekonfronteer met jouself, jou vrese en verlange. In die woestyn word jy ook weer mens, maar nie sonder ’n stryd nie.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Ons gaan die God van die woestyn ontmoet – die God wat ons nie noodwendig uithaal uit die morsigheid van die lewe nie, maar ons te midde daarvan ontmoet.”]

Die Bybel is vol letterlike en figuurlike woestynverhale, maar een wat nog altyd my verbeelding aangegryp het, is die verhaal van Hagar. Hagar se verhaal is ’n woestynverhaal in meer as een opsig. Die woestyn vorm die geografiese agtergrond van haar lewe, maar beeld ook die emosies uit wat loskom daar waar Hagar se lewe ingeweef is in die verhaal van die uitverkorenes, Abraham en Sara.

Terwyl ons opnuut met Hagar gaan kennismaak, sal ons ook stilstaan by oomblikke wat aan baie vroue bekend is: oomblikke van angs, verlatenheid en negatiwiteit, maar ook  oomblikke van hoop, genesing en perspektief behou in moeilike omstandighede. Ons gaan die God van die woestyn ontmoet – die God wat ons nie noodwendig uithaal uit die morsigheid van die lewe nie, maar ons te midde daarvan ontmoet.

Twee tekste sal in die boek as stof vir nadenke dien. Dit is tekste wat ons telkens weer kan besoek: Genesis 16:1-16 en Genesis 21:8-21. Ons gaan hierdie tekste in die konteks van die groter verhaal van God se interaksie met Abraham en Sara lees.

Omdat Sarai en Abram se name tussen Genesis 16 en 21 verander, kies ek om te praat van Abraham en Sara, behalwe as die tekste pertinent na die ander naamvorme verwys.


[aesop_chapter title=”2. Ontmoet Hagar in Genesis 16″ bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

Die grootse en bekende verhaal van Abram begin met die skokkende nuus dat sy vrou, Sarai, onvrugbaar is. Die oorvloedige beloftes van God oor sy groot nageslag is deurweef met die nugter aanvaarding dat daar nog nie eens één kind is nie.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Dit is hartseer en ironies dat Sarai, wat self teen haar wil weggegee is, dieselfde gedoen het aan die vrou in haar besit, Hagar.”]

In die Ou-Testamentiese tyd was die implikasies van onvrugbaarheid baie ingrypend vir vroue soos Sarai. Phyllis Trible skryf in Hagar, Sarah and their children: “It robs a woman of her labor and her status. It undercuts patriarchy, upsets family values, and negates life.” Lewe en voortbestaan hang van Sarai af – ’n verantwoordelikheid waaraan sy swaar dra.

Sarai is vasgevang in haar posisie. Sy is die vrou van ’n redelik welgestelde man, maar het net geringe mag oor haar lewe. Selfs Abram het nie te veel daaroor getob voordat hy haar in Egipte ter wille van sy eie oorlewing aan die farao oorhandig het nie (Gen 12:10-20). Dit is dus hartseer en ironies dat Sarai, wat self teen haar wil weggegee is, dieselfde gedoen het aan die vrou in haar besit, Hagar.

In vers 1 ontmoet ons die twee vroue: Sarai, die vrou wat vir Abram nog geen kinders gebaar het nie, en die Egiptiese slavin, Hagar. Die twee vroue word deur die volgorde van die sintaks in verhouding tot Abram geplaas: “Sarai het nog nie vir haar man Abram ’n kind in die wêreld gebring gehad nie. Sy het ’n Egiptiese slavin met die naam Hagar gehad” (v 1). Die kontras tussen die twee vroue is eers vir Sarai ’n uitkoms, maar word later vir haar ’n las: Terwyl Sarai ryk en vry, maar ook oud en onvrugbaar is, is Hagar arm, jonk en ’n slavin, maar wel vrugbaar.

Die twee vroue in Abram se huishouding is nie gelyk nie. Die een het die mag, die ander een nie. Natuurlik het Sarai die mag hier, maar nie toe haar man haar wou voorhou as sy suster in Egipte nie. Haar mag is beperk, maar genoegsaam om oor Hagar se toekoms te besluit.

Sarai regverdig haar besluit om Hagar aan Abram te gee deur die Here daarvan te beskuldig dat Hy nie vir haar ’n kind wil gee nie (v 2). Dit laat ʼn mens nogal dink aan Adam wat vir God blameer het, want dit was mos die vrou wat God hom gegee het van wie hy die vrug ontvang het.

In haar onderhandelinge met Abram noem Sarai natuurlik nie Hagar se naam nie. Sy praat van haar “slavin”. Sy sien haar slavin bloot as ’n geleentheid om ’n kind te hê. Abram kla nie veel nie, want toegang tot ’n jonger vrou word op ’n skinkbord aan hom gebied. In vers 3 lees ons dat Sarai Hagar “vir haar man Abram as vrou gegee het”. Ewe skielik is Hagar nou slavin én vrou. Sy word eenvoudig aangegee.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Miskien is dit net Sarai se persepsie, maar persepsies word baiekeer jou realiteit.”]

Hagar se daaropvolgende swangerskap is egter nie deel van Sarai se plan nie. Hagar het nou die mag. Sy is die vrugbare een wat Abram se kind dra. Sy is nou meer werd in die patriargale opset en “[t]oe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag” (v 4). Hagar het dus nou baie minder respek vir Sarai. Miskien is dit net Sarai se persepsie, maar persepsies word baiekeer jou realiteit. Hier het sy die slavin as vrou gegee en nou is dié vrou boonop swanger. Is Hagar nou hoër in aansien as Sarai?

Sarai voel nou magteloos en bedreig en vra vir Abram om in te gryp. Sy blameer hom en roep God as getuie. Sy sê reguit vir hom: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur” (v 5). Hier kry ons ’n duidelike seksuele verwysing. Enige objektiewe leser sal die onreg in haar aanklag raaksien. Sy verplaas die blaam en bring God in die argument in.

Abram gooi die bal terug: Hagar is tog eerstens haar slavin en dan eers sy vrou. Sarai het daarom die reg om teen haar op te tree: “Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink” (v 6). Sarai behandel Hagar gevolglik sleg, en in reaksie daarop loop Hagar alleen en swanger die Negev-woestyn in – heel moontlik terug Egipte toe.


[aesop_chapter title=”3. Hagar vra om gesien te word” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

 

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Hagar vra dat ons haar nie sommer sal afmaak as ’n randfiguur of byspeler nie. Sy wil ons in die oë kyk en dring aan om raakgesien te word.”]

Ons lees maklik bo-oor tekste, of ons onthou ’n kernoomblik en beskou dit as genoegsaam. Ons kennis van die Ou Testament is baiekeer die verflansing van inligting wat ons by ons ouers, kerk en skool ontvang het. Ons herken name en oomblikke, maar nie detail nie.

Hagar vra dat ons haar nie sommer sal afmaak as ’n randfiguur of byspeler nie. Sy wil ons in die oë kyk en dring aan om raakgesien te word. Wat moet ons sien? In die eerste plek net vir Hagar. Haar rol in Abram se huishouding is bloot funksioneel. Sy is ’n slavin – ’n besitting – en dus uitgelewer aan die geite en behoeftes van haar eienaars. Sy verrig waarskynlik elke dag harde, fisiese werk.

Hagar word slegs raakgesien wanneer sy benodig word. Sarai sien haar in ’n oomblik van wanhoop en magteloosheid raak. Dit was destyds ’n algemene en heeltemal wetlike gebruik om deur jou slavin vir jouself ’n kind te verwek. Hagar word dus raakgesien as die potensiële moeder van Sarai en Abram se kind. Die slavin het geen keuse in die hele situasie nie. Inteendeel, in Sarai en Abram se monde het sy nie eers ’n naam nie: Sy is eenvoudig die “slavin”.

Ons kies nou om haar raak te sien as ’n mens – ’n jong meisie wat vasgevang is in ’n groter verhaal waarin haar lewenskoers deur ander se besluite bepaal word.

Om oor na te dink
  1. Wat is vir jou verrassend en nuut aan hierdie verhaal wat jy gedink het jy ken?
  2. Kan jy jou met Hagar se situasie vereenselwig? Wanneer het jy al in jou lewe gevoel jy is bloot ’n byspeler of ’n funksionele entiteit in iemand anders se verhaal?
  3. Die karakters sien Hagar nie raak nie, en ons as lesers kyk haar mis. Wie het jy al misgekyk in jou lewe? Word jy dalk uitgenooi om weer te gaan kyk?

 *****

God sien

As jy ’n toneelstuk oor Genesis 16 sou opvoer, sou jy twee verhoogstelle nodig hê: een vir die tent binne die kamp van Abram en sy groot gevolg, en een vir die woestyn.

En waar sou God dan wees? Tog sekerlik by die tentekamp van sy gekose, by die een wat deur Hom geroep en geseën is, die een aan wie ’n groot nageslag belowe is en deur wie die volke van die aarde geseën sal word.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Vir die eerste keer kry Hagar ’n stem. Sy word uitgevra oor waar sy vandaan kom en waarheen sy op pad is.”]

Verrassend genoeg nié. In Genesis 16 is God by Hagar in die woestyn. ’n Engel van die Here vind haar by ’n fontein (v 7). Die Hebreeuse woord is mal’ath wat letterlik boodskapper beteken, en dit is dan ook die rol van hierdie Engel. As jy egter mooi lees, kom jy agter dat die verteller later na die Engel as God verwys (v 13).

Vir die eerste keer kry Hagar ’n stem. Sy word uitgevra oor waar sy vandaan kom en waarheen sy op pad is. Ons hoor haar ook vir die eerste keer praat (v 8).

Die Engel stuur Hagar terug met skynbaar harde woorde: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag” (v 9). Hy gee haar egter ook die belofte van ’n toekoms (v 10).

God openbaar Homself aan Hagar en maak sy wese aan haar bekend, eerstens deur die Engel wat haar toekomstige seun die naam Ismael gee, wat “God hoor” beteken, en tweedens deur haar eie insig dat Iemand haar raakgesien het. Sy getuig: “U is ’n God wat my sien” (v 13). Trible verwoord dit as volg: “At a spring (‘eye’) on the way to Shur, Hagar the theologian sees God and lives.”

Die fontein word dan ook vernoem na hierdie verrassende oomblik van raaksien en erkenning: Lagai-Roï wat beteken “van Hom wat lewe en my sien”. Die God wat sien, belowe dan ook vir haar, as vrou, ’n nageslag wat “te veel sal wees om te tel” (v 10). So word Hagar die enigste vrou in die Bybel aan wie ’n oorvloedige nageslag beloof word.

Om oor na te dink
  1. God openbaar Homself as die Een wat sien. Word jy uitgenooi om raak te sien wat God raaksien? Met watter ingesteldheid dink jy sal jy begin kyk?
  2. Wat beteken dit vir jou om te weet dat God sien? Was daar al tye in jou lewe wat jy gevoel het niemand sien jou raak of gee vir jou om nie?

[aesop_chapter title=”Woestyn as landskap van keuse” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

 

Een van die aangrypendste gebeure in die geskiedenis van die vroeë kerk is die uittog na die woestyn. Vanaf die einde van die derde eeu het gelowiges hulle gaan vestig in die woestyngedeeltes van Egipte en Sirië. Dit is nie die hooffokus van hierdie boek om dié komplekse, historiese fenomeen te beskryf nie, maar eerder om insig te kry in die bewustelike keuse van gelowiges om in die woestyn te gaan woon. Hierdie mans en vroue is nie gedwing om daar te gaan bly nie; hulle het self gekies om dit te doen, en het dit as ’n keuse ter wille van hulself, maar ook ter wille van God, beskou. Ons leer die woestynbewoners ken uit die sogenaamde “sayings” of gesegdes wat behoue gebly het.

Kyk jy na ’n lugfoto van Egipte, besef jy dat deur die woestyn te kies, jy téén lewe vír dood kies. Jy verlaat die dun, groen oase van lewe langs die Nyl vir die bruin, barre woestyn. Daar was verskeie redes vir hierdie keuse. Een historiese rede is dat keiser Konstantyn aan die begin van die vierde eeu die vervolging van Christene beëindig het. Eeue lank was die gevaar van vervolging altyd ’n realiteit, maar skielik was dit maklik om ’n Christen te wees. Sommige gelowiges het egter gevoel dat die erns van navolging nou in die gedrang gekom het, en het dus gekies om hul lewe op ’n ander manier aan God te offer. Hulle het dit gedoen deur hulself in die woestyn te gaan afsonder.

Lees jy die Nuwe Testament met Paulus en ander skrywers se sportverwante beelde wat die wedloop van die geloof beskryf (Heb 12:1-3), besef jy dat hierdie eerste Christene geweet het dat die geloofslewe dissipline en oefening vra. In die Christelike tradisie was daar dus van die begin af dissiplines van vas, diens, gebed, deel van besittings, eenvoud en die kweek van deugde. Miskien is dit moeilik om te verstaan in vandag se kultuur waarin matigheid nie sterk figureer nie.

[aesop_quote type=”block” align=”left” quote=”Die ander perspektief is dat jy die landskap kies omdat jy verlang, omdat jy ten diepste ’n begeerte na God het, en omdat niks anders meer saak maak nie.”]

 

’n Mens kan vanuit twee perspektiewe na die woestyn as landskap van keuse kyk. Die eerste is dat die woestynbewoners gevoel het dat dit God se opdrag aan hulle was: om honger, alleen, selibaat en arm te leef. Sint Antonius het byvoorbeeld ervaar dat Jesus hom deur sy woorde aan die ryk jongman in die Evangelies geroep het. Jesus roep die jongman op om al sy besittings te verkoop en die geld aan die armes gee (Matt 19:21). Antonius het dit dan ook gedoen en die res van sy lewe in afsondering in die woestyn gaan bly.

Die ander perspektief is dat jy die landskap kies omdat jy verlang, omdat jy ten diepste ’n begeerte na God het, en omdat niks anders meer saak maak nie. Jy gaan, want jy weet jy gaan God ontmoet, en om God te ontmoet, moet jy jou hart suiwer deur afstand te doen van alles waaraan jy vasklou. Die hart is ’n kernmotief vir die woestynbewoners. In die Bybelse denke is die hart die plek van geestelike bewussyn van waaruit gehoorsaamheid uitgeleef word. Die suiwer hart is nodig vir ware gebed en word die altaar van die heerlike teenwoordigheid van God. Daarom skryf die woestynvader Ammonas:

Night and day I pray that the power of God may increase in you, and reveal to you the great mysteries of the Godhead which it is not easy for me to utter with the tongue, because they are great and are not of this world, and are not revealed save only to those who have purified their hearts from every defilement …

Die lewe van die abbas en ammas (vaders en moeders) van die woestyn het mettertyd as motivering vir ander gedien. Wat het die buitestanders in hierdie mense raakgesien wat hulle aangespoor het om self alles te los: status, besittings, sekerheid? Miskien was dit hul verstaan van transformasie, verheerliking en opstanding. Daar word oor een van hierdie abbas geskryf:

They said of Apa Pambo, that just as Moses had taken on the likeness of the glory of Adam, when his face shone with the glory of the Lord, in the same way, the face of Apa Pambo shone like lightning, and he was like an Emperor, seated on a throne. The same effect was to be seen in Apa Silvanos and Apa Sisoes.

Gonzáles vertel in sy kerkgeskiedenis The story of Christianity dat baie mans buite die hekke van Pachomius se klooster om toelating gewag het. Pachomius was die vader van gemeenskaplike woestynlewe. Mense is dae lank buite sy hekke gelos om hul oortuiging te toets. En dikwels as die nuwelinge ingelaat is, moes hulle eers katkisante wees en gedoop word, want hulle was nie Christene nie. Hulle het net iets gesien.

Die woestyn was ’n keuse om te stoei met die hart en ’n antwoord op die verlange na ’n enkelvoudigheid van hart en oog. Hierdie enkelvoudigheid het ’n deursigtigheid behels: ’n strewe om agendas, maskers en alle verborge dinge te herken vir wat dit was sodat die hart gesuiwer kon word. Oor só ’n abba skryf Ouida:

He was a man who had gained a heart that was all of one piece, a heart as unriven by the knotted grain of private, unshared meanings and of private, covert intentions as was the solid, milk-white heart of the date palm.

Belden Lane som dit mooi op: Hy beskou die woestynbewoners as mense wat in die woestyn waardes ontdek het wat ooreengestem het met hul eie. Hulle het ten diepste besef dat God, asook hul ware self, iewers anderkant sekerheid en gemak is.


[aesop_chapter title=”4. Ontmoet Hagar in Genesis 21″ bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

 

Tyd het verloop. Sara en Abraham, ná ongeloof en lag, is ’n seun met die naam Isak ryker. Nou word Sara se persepsie weer gekleur: Hagar is nie nou meer ’n bedreiging nie, maar wel haar seun.

Die beskrywing van die situasie in Genesis 21 verskil van vertaling tot vertaling. Volgens die 1953-vertaling sien Sara vir Ismael spot; in die NRSV sien sy vir Hagar met Ismael speel; in die 1983-vertaling sien sy vir Ismael lag (v 9). Die vertalers verskil dus oor presies wat Sara gesien het. Die algemene gevoel is tog dat, wanneer Sara die twee kinders saam sien, sy weereens gekonfronteer word met die implikasie van haar keuse van jare gelede om Hagar vir haar man te gee.

Sara sien skielik twee erfgename. Op daardie oomblik is haar reaksie dat Ismael nie saam met haar kind mag erf nie. Robert Alter se vertaling van vers 10 bring die hardheid van Sara se gevoel na vore. (Let daarop dat Hagar en haar seun weereens nie op hul name genoem word nie.) “Drive out this slavegirl and her son … for the slavegirl’s son shall not inherit with my son, with Isaac.” Susan Niditch skryf hieroor: “Her words shiver with contempt for the upstarts, the upstarts that she herself had created.”

Hierdie keer het Abraham ’n opinie. Volgens Alter se vertaling is hierdie woorde van Sara boos in Abraham se oë. Dit was nie vir hom reg dat sy ander kind nie kan erf nie. Maar dié keer is dit God wat praat en toelaat dat Sara se wil geskied. Hy gee aan Abraham die belofte dat sy seun Ismael ook ’n groot nasie sal word. In hierdie gesprek word Ismael dan ook aan Abraham verbind (let weereens op hoe min Hagar en Ismael op hul name genoem word):

Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het, maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie … Tog sal Ek die seun van die slavin ’n nasie laat word, want hy is jou kind” (v 11-13).

Die ooreenkomste tussen Ismael en Isak se verhale gee ʼn mens hoendervleis: In vers 14 staan Abraham vroeg die volgende oggend op, net soos wanneer hy sy ander seun, Isak, in Genesis 22:3 gaan offer.

[aesop_quote type=”block” align=”right” quote=”Dit is een van die treffendste gedeeltes uit ’n Bybelse verhaal: die ma wat die kind neersit en ver gaan sit en huil, omdat sy nie wil sien hoe haar kind sterf nie.”]

Hierdie keer word Hagar weggestuur en loop sy nie uit haar eie keuse die woestyn in nie. Sy het ook nou ’n kind by haar. Miskien is dit waarom ʼn mens die gevoel kry dat sy nou doelloos ronddwaal, al is dit moontlik dat sy sekerlik nou vrygemaak is en nie meer ’n slaaf is nie. ’n Mens kan seker ook wonder of Abraham uit sy rykdom nie vir haar meer kon gegee het nie.

Genesis 21:15-16 is vir my een van die treffendste gedeeltes uit ’n Bybelse verhaal: die ma wat die kind neersit en ver gaan sit en huil, omdat sy nie wil sien hoe haar kind sterf nie. Die woord neersit (slk) dra ook die konnotasie van ’n liggaam wat in ’n graf neergelê word. In die konteks van só ’n vertaling sorg Hagar vir ’n waardige begrafnis vir haar kind. Ismael word in dié gedeelte as yeled (kind) beskryf (v 16). Isak is die yeled in rykdom en Ismael die yeled in armoede. Ismael is al ’n tienerseun, tog is hy Hagar se kind en weerloos.

Die verteller verskuif egter die beskrywing na na’ar (v 17; wat “seun” beteken). Terwyl die dood nader, verskyn ’n Engel weer aan Hagar en kondig aan dat God die kind gehoor het (v 17). Soos in Genesis 16 sien Hagar  weer – dié keer ’n put met genoeg water om haar velsak mee vol te maak (v 19). God was by Ismael (v 20) en Hagar inisieer vir hom ’n toekoms en word vir die eerste keer sy ma genoem (v 21).


[aesop_chapter title=”Lees verder” bgtype=”img” full=”off” bgcolor=”#888888″ minheight=”0″]

Koop by Bybel-Media se aanlyn-winkel

Bestel telefonies by 021 864 8210/11

Stuur bestelling per e-pos na [email protected]